Parys sonder water, maar waterwerke sonder werkers – AfriForum eis antwoorde
Die AfriForum-tak in Parys het ’n dringende skrywe aan die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit en die departement van Water en Sanitasie (DWS) gerig oor die toestand van die dorp se waterwerke, waar alle herstel- en opgraderingswerk skynbaar tot stilstand gekom het. Dít is omdat die kontrakteur wat aangestel is om die waterwerke op te gradeer, glo bankrotskap verklaar en die terrein verlaat het. AfriForum is egter bekommerd dat dié verduideliking die munisipaliteit se onvermoë om sy finansiële verpligtinge na te kom, probeer verdoesel. AfriForum probeer nou agter die kap van die byl te kom en het daarom ’n dringende vergadering met die munisipaliteit en die DWS aangevra, asook ’n uiteensetting oor die stand van sake by die waterwerke.
AfriForum het onlangs verneem dat vier waterpompe en -motors, wat die munisipaliteit reeds in Desember laat herstel het, glo steeds nie by die watersuiweringsaanleg afgelewer is nie omdat die munisipaliteit na bewering nie vir dié herstelwerk betaal het nie. AfriForum wil tydens ’n vergadering met die munisipaliteit en die DWS verstaan of finansiële wanbestuur die rede is waarom die munisipaliteit voortdurend versuim om sy verpligtinge rakende dienslewering na te kom.
“Die doeltreffende bestuur van Parys se watersuiweringsaanleg is ’n noodsaaklikheid en as die munisipaliteit nie in staat is om hierdie basiese verpligting na te kom nie, moet ’n provinsiale uitvoerende gesag intree en die munisipaliteit onder administrasie plaas. Minstens dán sal daar meer geleentheid wees vir gemeenskapsorganisasies soos AfriForum om broodnodige ondersteuning en kundigheid te bied om Parys se waterkrisis op te klaar,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.
AfriForum is reeds in die proses om die munisipaliteit vas te vat vir sy gebrekkige dienslewering deur middel van ’n hofaansoek. Die burgerregteorganisasie het in Desember verlede jaar ’n aansoek by die Bloemfonteinse Hooggeregshof ingedien waarin intervensie ingevolge artikel 139 van die Grondwet versoek is. Hiervolgens kan ’n provinsiale uitvoerende gesag intree en die munisipaliteit onder administrasie plaas as sy pligte nie nagekom word nie. Die burgerregteorganisasie wag steeds op uitspraak in dié saak.
Volgens Pretorius is Parys se inwoners vuisvoos oor die stand van sake op die dorp. Nie net is die waterwerke steeds nie op standaard nie en word die waterkwaliteit gedurig in twyfel getrek, maar inwoners moet boonop ook die swak onderhouding van die dorp se kraginfrastruktuur verduur. AfriForum het verlede maand die munisipaliteit by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) verkla omdat die munisipaliteit nie aan al die lisensievereistes vir kragvoorsiening voldoen nie.
“Inwoners word konstant met kragonderbrekings geteister en dis tyd dat die munisipaliteit verantwoording doen hiervoor. As AfriForum se versoeke om antwoorde dan só gereeld op dowe ore val, sal die munisipaliteit hierdie situasie aan Nersa moet verduidelik,” voeg Pretorius by.
Volgens Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, wil AfriForum graag die munisipaliteit bystaan met kundigheid, maar dié helpende hand word gereeld weggeklap. “Die burgerregteorganisasie vra al vir só lank vir gereelde vergaderings sodat ondersteuning gebied kan word. AfriForum het selfs al ’n interdik bekom sodat toegang tot die waterwerke nie geweier kan word nie, maar steeds is die munisipaliteit se trots vir hom meer belangrik as inwoners se basiese menseregte,” sê Burger.
Corne Cronje, bestuurder van Gemeenskapstrukture by AfriForum, sê dis duidelik dat die munisipaliteit nie omgee vir die gemeenskap nie, daarom is daar geen dringendheid om enigsins die water- of kraginfrastruktuur te herstel nie. “Die gemeenskap kan nie meer die munisipaliteit vertrou nie, daarom is dit tyd dat die munisipaliteit se pligte aan diegene oorhandig word wat graag die dorp doeltreffend wil laat funksioneer – die inwoners.”