|

R100 000 boete vir Bizos ná aanranding

Landdros Tshepo Twala het Alexi Bizos, seun van die ontslape menseregte-advokaat George Bizos, vandag in die landdroshof in Johannesburg ’n boete van R100 000 of 12 maande tronkstraf opgelê, asook ses maande korrektiewe toesig en gemeenskapsdiens van 20 uur per maand by skuilings vir mishandelde vroue.

Dít volg nadat Bizos in 2024 skuldig bevind is aan aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat hy sy destydse vrou, Monique van Oosterhout, in 2015 so ernstig aangerand het dat ses van haar ribbe gebreek het. Bizos het Van Oosterhout, wat intussen van hom geskei is, tydens die voorval herhaaldelik met die vuis aan beide kante van haar ribbekas geslaan en teen ’n boekrak vasgestamp.

Twala het met hierdie vonnis ’n sterk boodskap teen geslagsgebaseerde geweld uitgestuur en gesê dat ’n mens nie die feit kan ignoreer nie dat hierdie ’n kwesbare vrou was wat in die veiligheid van haar eie huis aangerand is. Hy het verder gesê dat Bizos geen berou getoon het nie en misluk het om die onregmatigheid van sy optrede te erken. Hy het ook volgens Twala geen insig getoon in die misdaad wat hy gepleeg en die impak wat dit op die slagoffer gehad het nie.

Tswala het beklemtoon dat geslagsgebaseerde geweld ’n plaag geword het wat ’n swaar straf vereis.

Volgens Van Oosterhout is sy dankbaar dat die vonnisoplegging nou afgehandel is. Sy het AfriForum en die privaatvervolgingseenheid bedank vir hul ondersteuning in die saak. Sy het ander vroue aangemoedig om vir hulself op te staan en om nie te skroom om hul man of lewensmaat van hierdie “haglike gedrag” aan te kla nie.

“Hierdie onaanvaarbare gedrag moes nooit gebeur het nie. Dit is nodig dat meer en meer vroue opstaan sodat hierdie tipe gedrag kan verander,” het Van Oosterhout gesê.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid en aanklaer in dié saak, het ná die hofverrigtinge gesê dat hierdie skuldigbevinding en vonnis ’n oorwinning is vir vroue en die stryd teen geslagsgebaseerde geweld.

“Ons is gelukkig met die vonnis. Dit stuur ’n duidelik boodskap dat die howe in die toekoms sake van geslagsgebaseerde geweld ernstig gaan opneem. Dit is verder ook belangrik dat hierdie saak ’n boodskap stuur aan al die vroue wat hulself in soortgelyke situasies bevind, dat daar wel gevolge sal wees.”

Nel het gesê vroue moet praat en weet dat indien die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie wil luister nie, daar wel mense is wat sal luister en seker maak dat daar nagevolge is vir mans wat vroue mishandel.

“Ons (AfriForum se privaatvervolgingseenheid) sal alles moontlik doen om seker te maak dat vroue ten minste in hul eie huise veilig kan voel.”

Van Oosterhout het die privaatvervolgingseenheid reeds in 2018 genader nadat die NVG geweier het om Bizos te vervolg. Die eenheid het toe aangekondig dat hulle aansoek gaan doen om ’n nolle prosequi-sertifikaat sodat Bizos privaat vervolg kan word. Die NVG het daarna sy oorspronklike besluit om nie te vervolg nie, omgekeer. Bizos is destyds genooi om vertoë te rig voordat vervolging ingestel sou word, maar by ontvangs van sy terugvoer, het die NVG weer besluit om nie te vervolg nie. Dit het Van Oosterhout, met die privaatvervolgingseenheid se ondersteuning, genoop om aansoek te doen om ’n sertifikaat om Bizos privaat te vervolg.

Die Bizos-saak is die eerste wat die privaatvervolgingseenheid, ná sy ontstaan in Februarie 2017, aangepak het.

“Ek wil Kallie Kriel en AfriForum komplimenteer wat toe al ingesien het dat ’n privaatvervolgingseenheid noodsaaklik is, wat die verval in die strafregstelsel ingesien het en besluit het dat hulle iets daaromtrent wil doen. Dit wat in 2017 begin is, het nou vrugte afgewerp,” verduidelik Nel.

Volgens Nel het die eenheid in die verlede baie kritiek gekry van mense wat privaat vervolging as onmoontlik afgemaak het. Vandag meen hy word privaat vervolging al hoe meer algemeen soos wat die strafregstelsel verval en die vervolgingsgesag nie genoeg aandag gee aan sake – en veral sake van geslagsgebaseerde geweld – nie.

Soortgelyke plasings