Nuwe AfriForum-buurtwag in Viljoenskroon wil inwoners veilig hou
Die Viljoenskroon-gemeenskap het op 11 Februarie ’n AfriForum-buurtwag gestig. Dié buurtwag wil Viljoenskroon ’n veilige en voorspoedige tuiste maak vir die gemeenskap.
Die buurtwag-bestuur is ook tydens hierdie geleentheid verkies en lyk só: Herman Smit (buurtwagleier), Arno Roux (ops-spanleier), Roux Roux (steunspanleier) en Corné Marais (inligtingspanleier).
“Dis noodsaaklik dat gemeenskappe eienaarskap van hul eie veiligheid moet neem, daarom is ek baie dankbaar dat die gemeenskap van Viljoenskroon dit gedoen het. Ek wens hierdie verkose bestuur alles van die beste toe met die uitvoering van hulle pligte en ook om die gemeenskap te mobiliseer om oë en ore in die gemeenskap te wees en van Viljoenskroon ’n veiliger plek te maak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.
AfriForum-buurtwaglede ontvang deurlopend opleiding ten einde te verseker dat hulle goed toegerus is om hul onderskeie gemeenskappe binne die raamwerk van die wet te beveilig.
Indien jy wil betrokke raak by die Viljoenskroon-buurtwag, kontak vir Herman Smit by 072 127 2250.