AfriForum Sakenetwerk stig eerste plaaslike sakenetwerk op Potchefstroom
AfriForum Sakenetwerk se eerste plaaslike sakenetwerk is gister (11 Februarie) in Potchefstroom gestig en verskeie soortgelyke sakenetwerke sal na verwagting later vandeesmaand en in Maart in ander dele van die land in die lewe geroep word. Die doel van plaaslike sakenetwerke is om verskillende ondernemings aan mekaar voor te stel, verwysingsbemarking te fasiliteer, gemeenskappe te rugsteun, handelsmerke te versterk en verhoudinge met ander ondernemings in ’n gebied op te bou.
Ter voorbereiding van die stigting van plaaslike sakenetwerke is ’n aanlyngids met 21 000 ondernemings verder uitgebrei en verfyn. AfriForum Sakenetwerk is daarop toegespits om entrepreneurs van oor die land heen te help om mekaar op te spoor.
Hoekom aansluit by ’n plaaslike sakenetwerk?
Ondernemings wat by AfriForum Sakenetwerk aansluit, kan uitsien na verskeie voordele. Dié voordele sluit onder meer in gereelde slypsessies oor finansies, belasting, operasionele sake, administrasie en bemarking wat teen ’n minimale tarief deur Akademia aangebied word en ’n maandelikse netwerkgeleentheid waarby plaaslike ondernemings kan inskakel.
Tinteltong Toekennings: Waar innoverende ondernemings vereer word
Die jaarlikse Tinteltong Toekennings, wat innoverende Afrikaanse ondernemings tydens ’n glansgeleentheid vereer, is ongetwyfeld ’n hoogtepunt op AfriForum Sakenetwerk se kalender. Hierdie kompetisie sal voortaan aangepas word om ondernemings wat by die plaaslike sakenetwerke ingeskakel is, in te sluit. Dié toekennings erken die beste produkte en dienste, met wenners wat bepaal word deur stemme vanuit die plaaslike netwerke en die publiek. Vanjaar se kompetisie skop op 21 Februarie af wanneer nominasies open.
“AfriForum Sakenetwerk besef dat ondernemings en entrepreneurs dikwels die hart van ’n gemeenskap is en dat dit juis dié mense is wat die ekonomie op eie bodem aan die gang hou. Daarom wil AfriForum Sakenetwerk hierdie netwerk nóg verder uitbrei sodat elke entrepreneur in die land die geleentheid kan hê om van hul onderneming ’n sukses te maak,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.
Verdere plaaslike sakenetwerkgeleenthede sal gehou word in die Paarl (19 Februarie), Somerset-Wes (20 Februarie), Durbanville (21 Februarie), George (25 Februarie), Pretoria (28 Februarie) en Bloemfontein (5 Maart).
Lees hier meer oor AfriForum Sakenetwerk se plaaslike sakenetwerke.