|

Kai !Garib-vullisterreine laat ’n slegte smaak in die mond

Buiten die haglike toestand van die Kakamas-, Keimoes- en Kenhardt-vullisterreine, is hierdie eens pragtige dorpe sélf besig om in vullisterreine te ontaard. AfriForum het die afgelope week tot dié besef gekom met ’n besoek aan hierdie drie plaaslike vullisterreine in die Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit vir AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit.

Vullis word nie in hierdie dorpe verwyder nie en hoop in die sypaadjies op, terwyl mensgemaakte vullishope lukraak in onder meer oop erwe en parke opduik.

Wat Kakamas, Keimoes en Kenhardt se vullisterreine betref, is daar geen heinings om die terreine gespan nie, geen toegangsbeheer nie en ook geen wagte op die perseel wat beheer uitoefen oor wat gestort word nie. Van dooie diere se karkasse, bande en dies meer word op die terreine gestort. Op elke terrein is daar ook mense woonagtig wat vure aansteek om water te kook en kos te maak. Sodra daar ’n brand op die vullisterreine ontstaan dan trek die rook en gifgasse oor die woonbuurte.

“Hierdie droogte geteisterde gebied kan nie ’n veldbrand bekostig nie omdat daar baie min weiding is,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

Boonop is daar ook geen kompakteermasjiene, brandkrane, afvoerkanale en elektrisiteit op die terreine nie. Daar is ook nêrens enige noodplanne vir as ’n ramp die vullisterreine sou tref nie.

“Dit is hartseer om te sien hoe Kakamas, Keimoes en Kenhardt se vullisterreine tot nuut gaan. Daar sal dringend by die haglike toestand van hierdie vullisterreine ingegryp moet word om verdere skade aan die natuur te voorkom,” sluit Strauss af.

Soortgelyke plasings