AfriForumTV hou geskiedenis lewendig met stroming van Ons vir jou
Deur Megan Swart
Sedert die ikoniese musiekspel Ons vir jou vir die eerste keer in 2008 op die verhoog opgevoer is, het dit as herinnering gedien van die mense agter die geskiedenis. Dit was ook ’n uitnodiging om met nuwe waardering na ons erfenis en mekaar te kyk. Vanjaar, op die dag wat die geboorte van Paul Kruger herdenk word, kan Suid-Afrikaners dié stuk op AfriForumTV kyk en ’n blik kry op die lewens van onder andere president Kruger tydens die Tweede Vryheidsoorlog.
“Op hierdie dag bring ons hulde aan Oom Paul en die ander pioniers wat met opoffering en waardigheid, maar ook humor, só ’n unieke bydrae tot ons geskiedenis gemaak het. Met die vrystelling van Ons vir jou op Krugerdag wil ons ook ’n belangrike deel van ons geskiedenis op ’n besondere manier lewend hou,” sê Annelu Jordaan, vervaardiger by AfriForumTV.
“Ons is trots om hierdie produksie deur ons stroomdiens aan ’n breër gehoor beskikbaar te stel sodat nog meer mense die geleentheid kan kry om hierdie verhaal te beleef en ons geskiedenis te herontdek.”
Dié musiekspel, wat ook die eerste vollengte musiekspel oor die verwoestende oorlog van 1899–1902 is, het in 2008 in die Staatsteater gedebuteer. Dit het daarna op publieke aandrang in 2009 en 2012 teruggekeer na die Staatsteater waar dit weer uitverkoopte speelvakke beleef het. Die produksie het selfs in 2013 ’n Kaapse draai gemaak toe dit by die Artscape-teater opgevoer is.
In 2026, meer as ’n dekade later, is dit by AfriForum Teater herleef waar ’n hele nuwe generasie akteurs in die skoene van die geliefde karakters getree het. Nou is dit ook vir die eerste keer op die kassie te siene.
Shinelle Brewis, koördineerder vir AfriForumTV, sê ’n teaterstuk wat op ’n stroomdiens beskikbaar gestel word bied aan ’n hele nuwe groep kykers vermaak én die geleentheid om ander se stories, geskiedenis en erfenis te sien. “Elke kyk en intekening help AfriForumTV om voort te gaan om gehalte-inhoud te vervaardig en nog betekenisvolle plaaslike produksies aan kykers beskikbaar te stel. Deur hierdie ondersteuning kan ons verseker dat daar steeds ruimte is vir talent, kreatiwiteit en die verhale wat verdien om vertel te word.”
Ons vir jou herinner kykers daaraan dat oorloë geen oorwinnings oplewer nie. Dit vertel die bittere verhaal van families wat uitmekaar geskeur word, gemeenskappe wat verwoes word en gewone mense wat deurentyd die swaarste dra aan die las van oorlog. Teen dié agtergrond wys Ons vir jou dat medemenslikheid, liefde én volharding uiteindelik swaarder weeg as enige vlag of uniform.
Besoek www.afriforumtv.co.za om Ons vir jou te stroom.



