|

Skep nuwe wetgewing die moontlikheid dat onwettige mynbou onder ons neuse kan wegkruip?

Deur Marais de Vaal, raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum

’n Uitgebreide ekonomie bestaan rondom onwettige mynboubedrywighede in Suid-Afrika. Dit strek van die ontginning van ou ondergrondse skagte, waar mynwerkers maande ondergronds kan deurbring, tot die onwettige herwinning van verlate mynhope en die uitgrawing van rivieroewers vir alluviale goud. Eenvoudige metodes word gebruik om erts te ontgin en te verwerk, tipies in die afwesigheid van die gesondheids-, veiligheids- en omgewingsbeheermaatreëls wat van wettige mynboubedrywighede vereis word. Georganiseerde sindikate finansier bedrywighede, gebruik geweld om hul grondgebied te beheer, buit kwesbare en ongedokumenteerde werkers uit, stroop infrastruktuur en gebruik frontmaatskappye waardeur minerale wat onwettig gemyn is, wettige markte betree. Soos ander vorms van georganiseerde misdaad is die voorspelbare gevolge hiervan ook omgewingskade, verlore inkomste vir die staat en ernstige sosiale skade in geaffekteerde gemeenskappe.

Teen hierdie agtergrond stel die Wysigingswetsontwerp op Algemene Mynbouwette 2026 strawwe van tot R100 miljoen of 30 jaar gevangenisstraf voor vir sekere onwettige mynbouverwante oortredings; kriminaliseer die verlening van hulp aan persone wat onwettige mynbou bedryf; en versterk wetstoepassingsbevoegdhede. Hierdie hervormings is nodig en welkom. Die moontlikheid van strenger strawwe moet egter nie as ’n oorwinning oor onwettige mynbou beskou word nie.

Die jongste voorgestelde wysigings moet in die konteks van die Wysigingswetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale Hulpbronne, wat in 2025 gepubliseer is en wat ’n raamwerk vir die formalisering van tradisionele- en kleinskaalse mynbou voorstel, beskou word. Hierdie wetgewende proses is steeds onvoltooid, maar dit blyk dat die 2026-wetsontwerp daarop voortbou en op die aanname berus dat die 2025-raamwerk in wese dieselfde vorm sal aanneem.

Die formalisering van tradisionele- en kleinskaalse mynbou is nie inherent problematies nie. Om informele operateurs in ’n wettige en gereguleerde sektor te integreer, kan voordele inhou. Die gevaar lê egter in wat regulatoriese kamoeflering genoem kan word.

’n Geldige tradisionele- of kleinskaalse mynboupermit kan maklik misbruik word om ’n uiterlike voorkoms van wettigheid aan andersins onwettige bedrywighede te verleen. Gestel ’n wettige kleinskaalse myn brei buite sy gemagtigde area uit, ontgin minerale wat buite die bestek van die permit val, of gebruik ongemagtigde mynboumetodes. ’n Permit maak nie sulke gedrag wettig nie, maar omdat hierdie oortredings moeilik is om op te spoor, kan dit ’n wettige kanaal bied waardeur onwettig ontginde minerale die wettige mark betree.

Die logiese teenwig om die moontlike uitbuiting van die stelsel te vermy, is die vereiste vir doeltreffende regulering en wetstoepassing. Dit behels veel meer as om bloot te kontroleer of ’n operateur oor ’n geldige permit beskik of nie. Dit vereis ’n akkurate, nasionale inligtingstelsel (kadasterstelsel) wat aandui watter minerale, waar en deur wie ontgin mag word; stelsels om die oorsprong van minerale wat die wettige mark betree na te spoor; gereelde inspeksies om te kontroleer of regulasies nagekom word; en konsekwente wetstoepassing indien dit oortree word. Tog is dit presies die aspekte waar gebrekkige institusionele kapasiteit steeds ’n groot bron van kommer is.

Die parlement het in Januarie vanjaar gewaarsku dat die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne (DMPR) se vermoë om voldoeningsinspeksies uit te voer en nakoming af te dwing belemmer word deur ’n tekort aan omgewings- en minerale hulpbroninspekteurs. Die [arlement het eweneens gewys op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se beperkte hulpbronne en die afwesigheid van gespesialiseerde opleiding wat daarop gemik is om onwettige mynbou te bestry. Die DMPR het ook steeds nie ’n ten volle operasionele, moderne digitale nasionale kadasterstelsel nie – die mees onlangse vooruitskatting is dat die nuwe stelsel eers teen 31 Maart 2027 landwyd in werking gestel kan word.

Hoewel die 2026-wetsontwerp die SAPD bykomende wetstoepassingsbevoegdhede met betrekking tot oortredings van mynbouwetgewing gee, bly roetine regulatoriese toesig fundamenteel ’n departementele verantwoordelikheid. As die formalisering van tradisionele- en kleinskaalse mynbou tot ’n aansienlik groter aantal mynboubedrywighede lei wat toesig vereis, maak die kapasiteit en vermoë van die DMPR des te meer saak.

Hierin lê die teenstrydigheid van die voorgestelde wetgewing om onwettige mynbou te bekamp. Terwyl die straf vir onwettige mynbou drasties verhoog word, stel die regering voor om wettige toegang tot die mynbousektor te verbreed deur middel van tradisionele- en kleinskaalse mynpermitte. Beide blyk wettige beleidsdoelwitte te wees, maar wetgewing alleen kan nie hierdie doelwitte verwesenlik nie.

’n Maksimum vonnis van 30 jaar lyk soos ’n indrukwekkende maatreël om onwettige mynbou te bekamp. Die praktiese waarde daarvan is te betwyfel as onwettige mynbou waarskynlik nie opgespoor word nie, oortredings van wettige permitte nie gestraf word nie en as georganiseerde misdaadsindikate nie ontmantel word nie.

Streng wetgewing kan die staat se vermoë versterk om onwettige mynbou te bekamp. Dit kan egter nie funksionerende instellings wat met die nodige personeel en hulpbronne bemagtig is vervang nie. Tensy die DMPR en SAPD met die personeel, stelsels en hulpbronne toegerus word wat nodig is om hierdie hervormings op die grond te operasionaliseer, bestaan die risiko dat die kriminalisering van onwettige mynbou op papier versterk word, terwyl nuwe geleenthede geskep word vir onwettige mynbou om reg voor ons neuse weg te kruip.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf