|

AfriForum eis dringende optrede ná Mangaung-metro se versuim om vullis te verwyder

AfriForum het vandag ’n formele klagte by die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit ingedien weens die munisipaliteit se jarelange voortdurende versuim om basiese vullisverwyderingsdienste aan inwoners en ondernemings in dié metro te lewer. Die organisasie doen nou ’n beroep op die munisipaliteit om hierdie probleem so gou moontlik op te los.

Luidens AfriForum se brief aan die munisipaliteit het vullisverwydering in verskeie Bloemfonteinse voorstede – waaronder Langenhovenpark, Universitas en Wilgehof – óf heeltemal tot stilstand gekom óf vind dit ongereeld en onbetroubaar plaas. Hierdie situasie het reeds gelei tot ernstige gesondheidsrisiko’s, omgewingsbesoedeling, verslegtende lewensomstandighede en beduidende negatiewe gevolge vir plaaslike ondernemings.

Volgens die organisasie is die munisipaliteit se versuim om vullis te verwyder ’n duidelike verbreking van sy grondwetlike en wetgewende verpligtinge. Artikel 152 van die Grondwet verplig munisipaliteite om basiese dienste volhoubaar aan gemeenskappe te lewer, terwyl die Wet op Munisipale Stelsels bepaal dat dienste soos vullisverwydering doeltreffend, gereeld en omgewingsverantwoordelik gelewer moet word. Daarbenewens bepaal die Mangaung-metro se eie afvalbestuurs- en vullisverwyderingsverordeninge dat die munisipaliteit verantwoordelik is vir die gereelde verwydering van vullis.

“Inwoners betaal munisipale tariewe en heffings vir dienste wat eenvoudig nie gelewer word nie. Die voortgesette versuim om vullis te verwyder is nie net onaanvaarbaar nie, maar onwettig. Die munisipaliteit versuim om een van sy mees basiese verantwoordelikhede na te kom met ernstige gevolge vir gemeenskappe,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Terwyl die Mangaung-metro sukkel om basiese dienslewering aan die gemeenskap te verskaf, lewer AfriForum se vullisverwyderingsdiens reeds daagliks dienste aan gemeenskapslede wat daarvoor aangesluit het. Hierdie diens word konsekwent en betroubaar gelewer ten spyte van die munisipaliteit se voortgesette versuim.

“Terwyl die metro spook om dienslewering aan die gemeenskap te gee, is AfriForum se vullisverwyderingspan elke dag op straat besig om vullis te verwyder vir inwoners wat by dié diens aangesluit het. Ons nader ook plaaslike ondernemings, wat moeg is daarvoor dat die metro nie sy pligte nakom nie, om by hierdie diens aan te sluit,” sê Groenewald.

AfriForum het al vantevore formeel voorgestel dat vullisverwyderingsdienste in die Mangaung-metro aan AfriForum oorgedra word deur middel van ’n diensleweringsooreenkoms, vennootskap of ’n ander wettige meganisme. Die organisasie beskik oor die nodige kapasiteit, infrastruktuur en gemeenskapsnetwerke om hierdie diens doeltreffend en verantwoordbaar in belang van inwoners te lewer.

AfriForum het Sello More, die munisipale bestuurder van die Mangaung-metro, in die klagte versoek om dringend skriftelik aan te dui watter onmiddellike stappe geneem sal word om die vullisverwyderingskrisis te takel én versoek dat die munisipaliteit met AfriForum in gesprek tree oor alternatiewe oplossings tot dienslewering.

Indien geen bevredigende reaksie spoedig van ontvangs van hierdie klagte ontvang word nie, sal AfriForum verdere stappe oorweeg in belang van die betrokke gemeenskappe.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf