|

Celeste Gouws-saak: Beskuldigde ontglip uitspraak weens skielike “hipertensie”

Klankgreep: Gerrie Nel in hof (Engels)
Klankgreep: Gerrie Nel in hof (Engels)

Nes die uitspraak in die verkragtingsaak van Celeste Gouws gister in die KwaNojoli Landdroshof gelewer sou word, het die beskuldigde, Isaac Memese, gevra dat die hof moet verdaag sodat hy met sy prokureur kan konsulteer. Memese het egter nie nadese teruggekeer nie aangesien hy, volgens sy prokureur, weens hipertensie inmekaar gesak het. Memese se regsverteenwoordiger, Buhle Jikwana, het gister weer gevra vir uitstel, die hof het egter beslis dat Memese reeds onredelike vertragings veroorsaak het en het dus ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik en ’n finale datum vir die uitspraak vasgemaak.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid vervolg Memese privaat namens Gouws, wat op 2 September 2017 na bewering deur Memese verkrag is. Uitspraak moes reeds ’n jaar gelede gelewer geword het, maar is sedertdien ses keer uitgestel. Memese se regspan het vandeesweek nóg ’n uitstel aangevra, maar adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het ’n suksesvolle aansoek ingevolge artikel 342A van die Strafproseswet gebring om die hof toe te laat om te verklaar dat Memese onredelike vertragings veroorsaak het en dat uitspraak gelewer sal word.

Volgens Nel het die privaatvervolgingseenheid daagliks met die verval van die strafregstelsel te kampe. “Dit is hoe ’n verdedigingspan hierdie hof behandel. Dit is nadelig teenoor ons, dit is nadelig teenoor die private aanklaer, maar dit is ook nadelig teenoor die hof, en dit is nadelig teenoor die toediening van geregtigheid.”

“Ons het feite aan die hof voorgelê en ons het omstandigheidsgetuienis aan die hof voorgelê om aan te dui dat die regte wat die beskuldigde uitoefen nie vir die regte doel is nie, maar eerder om onnodige vertragings te veroorsaak tot so mate dat die hof verplig is om die ander geaffekteerde belange en regte ook in ag te neem en om die ander geaffekteerde regte van die samelewing, belange van geregtigheid, die slagoffer en die vervolging in ag te neem.”

“Ons sê nie hy het nie regte nie. Hy misbruik dit, hy manipuleer sy regte en dit is so duidelik soos daglig vir ons, daarom maak ons ’n respekvolle voorlegging aan die hof dat hierdie beskuldigde enigiets sal doen om uitspraak te vermy. Dit is die eintlike rede waarom hy nie wil voortgaan nie,” sê Nel.

Nadat die hof aangekondig het dat uitspraak sal voortgaan het Jikwana sy opdrag eensydig beëindig. Toe die hof dié besluit van die hand wys, aangesien dit blyk dat hy nie op Memese se instruksie opgetree het nie, het Jikwana gevra om met Memese te konsulteer voordat hy gevra het dat die saak laat vaar moet word. ’n Uur later het Jikwana aan die hof gesê dat sy kliënt weens hipertensie inmekaar gesak het. Die hof het ’n lasbrief uitgereik, maar dit tot die volgende hofverskyning uitgestel.

Die saak het ’n lang en uitgerekte geskiedenis. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het op 30 Julie 2020 ’n nolle prosequi-sertifikaat uitgereik en die hofsaak het op 13 Julie 2021 begin waartydens die beskuldigde onskuldig gepleit het. Die privaat aanklaer het sy saak op 23 Februarie 2022 afgesluit, terwyl die verdediging sy saak op 20 April 2023 afgesluit het, albei die partye het hul slotargumente op 12 Julie 2024 gelewer en uitspraak was veronderstel om op 26 November 2024 gelewer te word.

Volgens Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid, is die voortdurende vertragings nadelig vir Gouws. “Tydens haar getuienis het Celeste aan die hof gesê dat dit beter sou wees om dood te gaan as om verkrag te word. Sy is ’n slagoffer van geslagsgebaseerde geweld en sy is deur die strafregstelsel in die steek gelaat toe daar aanvanklik besluit is om Memese nie te vervolg nie. Celeste het AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader om toe te sien dat geregtigheid sal geskied en die privaatvervolgingseenheid sal nie toelaat dat ’n misbruik van die proses haar verder van geregtigheid ontneem nie,” sê Bateman.

Die saak is tot 3 Maart 2026 uitgestel wanneer uitspraak gelewer sal word.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik