|

Kaartjies vir Centurion Gemeenskapsfees nou beskikbaar

Die Centurion Gemeenskapsfees beloof om ’n dag propvol pret vir oud en jonk te wees. Dié fees word op Saterdag 27 September by die Voortrekkermonument (VTM) gehou en die propvol program bied meer as genoeg om besoekers besig te hou.

Maak die litte los, snuffel in die mark én geniet hope skoletalent

Die bergfietsren en pretloop begin reeds om 06:30, terwyl die fees se uiteenlopende stalletjies om 07:00 oopmaak. Skoletalent van Laerskool Wierdapark, Laerskool Rooihuiskraal, Laerskool Hennopspark, Laerskool Swartkop en Laerskool Louis Leipoldt sowel as Hoërskool Eldoraigne, Hoërskool Zwartkop en Hoërskool Centurion sal van 10:45 af te sien wees. Skolesoliste sal hul talent om 11:45, 16:00 en 18:00 op die planke bring.

Bring die kleinspan!

Die Centurion Gemeenskapsfees sal ook seker maak dat die kleinspan dié dag ten volle kan geniet. Die Spur-kinderspeelarea sal sorg vir ure se pret en van 12:00 tot 20:00 oop wees. Hierdie veilige speelarea is omring, toegang word gekontrolleer en kinders sal in- en uitgeteken word. Die jongspan kan onder meer hier inkleur, hul gesigte laat verf of op die springkasteel baljaar. Kaartjies vir hierdie area kos R100 per kind.

Dié fees is musiek vir die ore

Van die grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf sal deur die loop van die dag optree. Die gewilde groep Droomsindroom skop die dag se program om 12:00 af, terwyl die immer gewilde Kurt Darren om 21:30 aan die beurt kom om die dag se musiekprogram af te sluit. Ander kunstenaars wat deur die loop van die dag optree, sluit onder andere in: Leah, Bobby van Jaarsveld en Marno van der Merwe.

Dit is egter nie al musiek wat op besoekers wag nie. Om 19:00 skop die AfriFees af waartydens Ghapi en Leandri Martin sal voorvat met die saamsing van geliefde Afrikaanse-liedjies. Lirieke word op die grootskerm vertoon en feesgangers kan al te lekker saamsing.

Bokke bo!

Springbok-rugbyaanhangers mag dalk wonder of hulle die toets tussen die Bokke en Argentinië gaan misloop as hulle die fees bywoon. Moenie bekommer nie, want daar is voorsiening gemaak en dié wedstryd sal op die grootskerm vertoon word.

Kom kuier saam

Kaartjies vir die fees en ander aktiwiteite wat aangebied word, is reeds beskikbaar. Algemene toegang kos R220 per persoon, studentekaartjies beloop R200 elk en kinders onder ses jaar kry gratis toegang. Daar is ook pakkette vir groepe, studente en gesinne beskikbaar waarmee feesgangers in aanmerking kom vir afslag. Hekke open reeds om 05:00.

Besoek www.gemeenskapsfees.co.za vir die volledige program, om kaartjies te koop of om meer oor die dag se verrigtinge uit te vind.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners