Slegs 1 uit 14 vullisterreine in Limpopo voldoen aan vereistes – AfriForum
Uit die 14 vullisterreine in Limpopo wat vanjaar as deel van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit geoudit is, kon net één terrein, naamlik die Tzaneen-terrein in die Groter Tzaneen Plaaslike Munisipaliteit, aan die mees basiese vereistes van vullisterreinbestuur voldoen. Die provinsie het boonop, naas die Vrystaat, die swakste in die land gevaar in terme van die persentasie vullisterreine wat die oudit kon slaag. Slegs 7% van terreine in Limpopo kon die oudit slaag en net 5% van terreine in die Vrystaat.
AfriForum het vanjaar 169 van die land se 544 vullisterreine, oftewel nagenoeg ’n derde van die land se terreine, geoudit. Uit die 169 terreine kon slegs een uit elke vyf terreine die oudit slaag.
“Met slegs een uit elke vyf vullisterreine wat voldoende basiese maatreëls het om die gemeenskap en omgewing teen besoedeling te beskerm, bevestig die uitslae van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit weereens dat die meerderheid munisipaliteite landwyd nie in staat óf bereid is om basiese funksies van dienslewering te verrig nie,” verduidelik Marais de Vaal, samesteller van die vullisterreinouditverslag en raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum.
Limpopo – waar slegs 7% van terreine wat geoudit is aan 80% of meer van die ouditvereistes voldoen het – het vanjaar sy powere prestasie voortgesit nadat daar verlede jaar ook net een terrein in die provinsie was wat die oudit kon slaag. Hoewel die gemiddelde nakomingspunt in die provinsie ’n geringe verbetering van 40% tot 41% getoon het, bevestig die oudit weereens dat vullisterreine in dié provinsie ernstige risiko’s inhou en waarskynlik skuldig is aan lug-, water- en grondbesoedeling.
Uit die 14 vullisterreine wat in Limpopo geoudit is, het die volgende vyf terreine nie eens ’n 10%-nakomingspunt behaal nie (die nakomingspunt is in hakkies aangedui):
- Phalaborwa-vullisterrein, Ba-Phalaborwa Plaaslike Munisipaliteit (6)
- Mookgopong-vullisterrein (Naboomspruit), Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit (0)
- Modimolle-vullisterrein (Nylstroom), Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit (0)
- Roedtan Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit (0)
- Thabazimbi, Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit (0)
Hendrik Kotzé, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo, hou vol dat die bevindinge van vanjaar se oudit bevestig dat die privatisering van munisipale dienste nou ’n dringende noodsaaklikheid geword het. “Die feit dat die Tzaneen-vullisterrein vir die tweede agtereenvolgende jaar die enigste terrein is in Limpopo wat die oudit kon slaag en hierdie terrein ’n hibriede samewerkingsmodel tussen die munisipaliteit en die privaat sektor volg, bewys dat groter betrokkenheid van privaat instellings die enigste oplossing blyk te wees vir die verval in munisipaliteite,” verduidelik Kotzé.
AfriForum sal nou die ouditbevindings aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing voorlê en eis dat munisipaliteite aanspreeklik gehou word vir hul mislukte pogings om vullisterreine te bestuur. Die burgerregteorganisasie sal ook voortgaan om gemeenskapsgebaseerde oplossings te bevorder, soos sy vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein en landswye herwinningsprojekte. “Dit is slegs deur hierdie pogings wat gemeenskappe voorspoedig sal wees ongeag die toestande waarin munisipaliteite hulself bevind,” sluit De Vaal af.