Slegs 20% van vullisterreine in KwaZulu-Natal voldoen aan vereistes – AfriForum
Uit die tien vullisterreine in KwaZulu-Natal wat vanjaar as deel van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit geoudit is, kon net twee terreine, naamlik die Seadoone-oorlaaistasie in Amanzimtoti en die Richardsbaai-Empangeni-vullisterrein in die uMhlathuze Plaaslike Munisipaliteit, aan die mees basiese vereistes van vullisterreinbestuur voldoen. Die oudit se resultate toon ernstige sistemiese verval ten opsigte van vullisterreine in die provinsie, waarsku die burgerregteorganisasie.
AfriForum het vanjaar 169 van die land se 544 vullisterreine, oftewel nagenoeg ’n derde van die land se terreine, geoudit. Uit die 169 terreine kon slegs een uit elke vyf terreine die oudit slaag.
“Met slegs een uit elke vyf vullisterreine wat voldoende basiese maatreëls het om die gemeenskap en omgewing teen besoedeling te beskerm, bevestig die uitslae van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit weereens dat die meerderheid munisipaliteite landwyd nie in staat óf bereid is om basiese funksies van dienslewering te verrig nie,” verduidelik Marais de Vaal, samesteller van die vullisterreinouditverslag en raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum.
KwaZulu-Natal – waar slegs 20% (oftewel twee uit tien) van die terreine wat geoudit is aan 80% of meer van die ouditvereistes voldoen het – het vanjaar ietwat verbeter op sy jare lange powere prestasie nadat daar verlede jaar net een terrein in die provinsie was wat die oudit kon slaag. Hoewel die gemiddelde nakomingspunt in die provinsie ’n geringe verbetering van 42,2% tot 46% getoon het, bevestig die oudit weer eens dat vullisterreine in dié provinsie ernstige risiko’s inhou en waarskynlik skuldig is aan lug-, water- en grondbesoedeling.
Uit die tien vullisterreine wat in KwaZulu-Natal geoudit is, het die volgende vier terreine nie eens ’n nakomingspunt van 30% nie (die nakomingspunt is in hakkies aangedui):
- Vryheid, AbaQulusi Plaaslike Munisipaliteit (10)
- Hluhluwe, Big 5 Hlabisa Plaaslike Munisipaliteit (14)
- Newcastle, Newcastle Plaaslike Munisipaliteit (22)
- Utrecht, eMadlangeni Plaaslike Munisipaliteit (28)
Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal, hou vol dat die bevindinge van vanjaar se verslag ’n ernstige waarskuwing inhou vir dié provinsie wat nagenoeg 10 % van die land se vullis genereer. “Plaaslike munisipaliteite doen nie naastenby genoeg om vullisterreine ordentlik te bestuur nie – en sommige van die terreine in KwaZulu-Natal is ’n tydbom wat ’n ekologiese ramp tot gevolg kan hê,” verduidelik hy.
AfriForum sal nou die ouditbevindings aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing voorlê en eis dat munisipaliteite aanspreeklik gehou word vir hul mislukte pogings om vullisterreine te bestuur. Die burgerregteorganisasie sal ook voortgaan om gemeenskapsgebaseerde oplossings te bevorder, soos sy vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein en landswye herwinningsprojekte. “Dit is slegs deur hierdie pogings wat gemeenskappe voorspoedig sal wees ongeag die toestande waarin munisipaliteite hulself bevind,” sluit De Vaal af.