|

AfriForum gee wenke vir optrede tydens plaasaanval

AfriForum het gister wenke gedeel om te help om ’n plaas of kleinhoewe meer weerbaar teen moontlike aanvalle te maak. ’n Plaasaanval kan ongelukkig selfs met elke moontlike denkbare voorsorgmaatreël in plek steeds plaasvind. Onmiddellike optrede as ’n plaasaanval wel plaasvind kan egter lewens red.

AfriForum het die volgende wenke vir wanneer ’n plaasaanval plaasvind en ná dit gebeur het:

Onmiddellike optrede

  1. Evalueer die situasie: Bepaal die aard van die aanval – is dit ’n roof, vandalisme of ’n ander bedreiging?
  2. Prioritiseer persoonlike veiligheid: Jou eie, jou gesin en werkers se veiligheid moet eerste gestel word. Verwyder hulle dadelik uit die gevaarlike situasie.

Kontak die owerhede

  1. Skakel nooddienste: Stel dadelik die toepaslike wetstoepassers en relevante sekuriteitsmaatskappye van die aanval in kennis.

Veilige kommunikasie

  1. Stel bure of nabygeleë plase van die aanval in kennis.

Beskermingsmaatreëls

  1. Beveilig die perseel: Sluit deure, maak vensters toe en doen stappe om verdere indringing of skade te verhoed.
  2. Bly waaksaam: Bly op die uitkyk vir verdere bedreigings en verdagte aktiwiteite.

Mediese hulp

  1. Skenk aandag aan enigiemand wat beserings opgedoen het.

Dokumenteer die voorval

  1. Teken besonderhede aan: Skryf neer wat gebeur het sodra dit veilig is om dit te doen, insluitend beskrywings van die aanvallers en alle skade en beserings wat opgedoen is. Neem soveel as moontlik foto’s en video’s en oorhandig dit aan die ondersoekbeampte.

Ondersteuning en bystand

  1. Soek emosionele ondersteuning: Plaasaanvalle kan traumaties wees. Reik uit na familie, vriende of professionele beraders indien nodig.

Opvolgaksies

  1. Werk saam met die owerhede: Verskaf alle inligting en bystand wat hulle benodig vir hul ondersoek.
  2. Hersien sekuriteitsmaatreëls: Oorweeg om jou plaas of hoewe se sekuriteitsmaatreëls te hersien en te verbeter om toekomstige aanvalle te voorkom.

Noodweer, ja of nee?

Tydens ’n plaasaanval kan dit nodig wees om in noodweer op te tree. Die vraag ontstaan egter wanneer ’n persoon in noodweer kan optree?

  1. Die aanval wat uit noodweer afgeweer word moet onwettig wees. As iemand jou voertuig byvoorbeeld probeer kaap, kan jy in noodweer optree om jouself te verdedig, maar as jy ’n bank beroof het en die polisie wil jou arresteer kan jy nie in noodweer optree om die “aanval” af te keer nie.
  2. Die aanval moet gerig wees teen iets of iemand wat die reg as beskermingswaardig ag. As X vir Y met ’n mes aanval, sal Z kan intree om Y se lewe te red. As Y egter in ’n openbare park loop kan X hom nie aanval omdat X reken Y hoort nie daar nie.
  3. Die aanval moet dreigend wees, maar nog nie afgeloop nie. As X op die punt is om Y aan te val, kan Y in noodweer optree, maar as Y liefs die hasepad kies en weghardloop kan Y nie vir X agterna sit en ’n opstopper gee nie aangesien die aanval reeds plaasgevind het.
  4. Die afweerhandeling moet teen die aanvaller wees. As Y vir X aanval kan X nie noodweerhandeling op Z rig nie.
  5. Die afweerhandeling moet noodsaaklik wees. As Y byvoorbeeld X se huis beset moet regsaksie gevolg word eerder as wat X vir Y ’n loesing gee.
  6. Daar moet ’n redelike verhouding tussen die aanval en afweerhandeling bestaan. As ’n 12-jarige byvoorbeeld X se staanhorlosie probeer steel, kan X nie eersgenoemde met ’n haelgeweer skiet nie.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Veiligheid