|

10 000 liter water by AfriForum-noodwaterpunt beskikbaar tydens onderbrekings

Gereelde wateronderbrekings in Durban se Moseley Park-gemeenskap het die plaaslike AfriForum-tak genoop om ’n noodwaterpunt op te rig. Dié waterpunt het ’n kapasiteit van 10 000 liter en is gedurende wateronderbrekings beskikbaar op die hoek van Hoofstraat en Marshallplek.

“Die redes wat die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit vir die gereelde wateronderbrekings verskaf is nog baie vaag, maar ons het binnekort ’n vergadering met die metro om hierdie probleme te bespreek en hopelik duideliker antwoorde te kry oor hierdie probleme,“ sê Donald Brown, voorsitter van AfriForum se Durban-tak.

Volgens Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal, ervaar dié provinsie geweldige uitdagings met infrastruktuur wat veral ’n impak het op watervoorsiening en rioolwerke. “Hierdie tipe uitdagings noop AfriForum en die gemeenskap om self op te tree om die probleme op te los anders ruk dit heeltemal handuit,” aldus Van Aswegen.

Intussen doen AfriForum se Durban-tak wat hulle kan om te kyk hoe hulle die spesifieke probleme, veral ten opsigte van water, die hoof kan bied. “Ons sal ook met waterspesialiste in die Durban-metro vergader om te kyk waar ons kragte kan saamsnoer om hierdie probleme op te los,” sê Allison Schoeman, AfriForum se komiteelid oor plaaslike regering by die Durban-tak.

“Skoon, lopende water is ’n basiese reg en die feit dat die eThekwini-metro dit nie voldoende kan lewer nie is vir ons ’n rede tot kommer. As AfriForum sal ons voortgaan om te soek na oplossings en om die gemeenskap by te staan soos wat ons nou met hierdie noodwaterpunt gaan doen,” sluit Van Aswegen af.

Sluit vandag nog aan by AfriForum se Durban-tak deur ’n WhatsApp-boodskap te stuur na 064 552 0357 of ’n e-pos na voorsitter.durban@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings