Wen kaartjies vir vriende vir Afrikaans is Lekker-konserte in Australië en Nieu-Seeland
SA Events se Afrikaans is Lekker-konserte, waarvan AfriForum Wêreldwyd die hoofborg is, is iets waarna baie Suid-Afrikaners in die buiteland jaarliks uitsien. Nou het persone met vriende of familie in Australië of Nieu-Seeland die geleentheid om vir ’n opwindende kompetisie in te skryf en vir dié buitelandse geliefdes dubbelkaartjies na een van die ses Afrikaans is Lekker-konserte wat binnekort in Australië en Nieu-Seeland plaasvind, te wen.
Vanjaar se Afrikaans is Lekker-konserte in Nieu-Seeland vind op 15, 16 en 17 Augustus plaas in onderskeidelik Hamilton, Auckland en Wellington. Die konserte in Australië word vanjaar op 22, 23 en 24 Augustus in onderskeidelik Brisbane, Perth en Sydney gehou. Gehore kan uitsien na gehaltevermaak deur van die voorste kunstenaars in die Afrikaanse musiekbedryf, insluitende Corlea, Bobby van Jaarsveld, JD Mars en Ruhan du Toit.

Hierdie konserte is veel meer as net musiekvertonings verduidelik Sue-Ann de Wet, hoof van Diaspora by AfriForum. “Ou vriende en gemeenskappe kom hier bymekaar. Dit is ’n plek om nuwe vriende te maak, lekker saam te kuier en jou taal en kultuur uit te leef. Om gelukkig te wees in jou nuwe land, beteken nie dat jy jou mense en kultuur versaak nie. Hierdie optredes bring daardie gevoel van ‘tuis’ terug.”
AfriForum Wêreldwyd is die hoofborg van die Afrikaans is Lekker-musiekkonserte en sien dié projek as ’n kragtige manier om Afrikaners in die buiteland te help om hul kulturele bande te behou. “Afrikaans is die polsende hart van ons gemeenskap, ongeag waar jy woon. Ons kultuur en taal is iets om te vier en te bewaar. Met AfriForum Wêreldwyd kan Afrikaners in die buiteland deel wees van ’n wêreldwye netwerk wat hulle ondersteun en help om hul erfenis lewend te hou,” sluit De Wet af.
Om meer inligting oor die konserte te bekom of om kaartjies te koop klik hier.
Skryf só in!
Die proses om in te skryf is eenvoudig. Volg hierdie skakel en volg die stappe wat daar uiteengesit is. Jy mag soveel keer inskryf as wat jy wil – elke inskrywing is ’n nuwe kans om te wen! Inskrywings sluit op 11 Augustus 2025 en die wenner word op AfriForum Wêreldwyd se Facebook-blad aangekondig.
Nóg ’n kans om te wen
Konsertgangers in Australië en Nieu-Seeland staan ook die kans om OZ Braai se Mini Braai met draaispittoebehore en speserye ter waarde van $658 te wen. Daar is een Mini Braai per land op die spel en die wenners sal met ’n gelukkige trekking bepaal word. Inskrywings sluit reeds op 8 Augustus. Skryf hier in. Hou AfriForum Wêreldwyd se webtuiste en sosialemediaplatforms dop vir verwikkelinge en meer besonderhede oor dié kompetisie.