Watertoevoer kom tot stilstand, Johannesburgers woedend
Zel-Marí Gelderblom
Johannesburgers is woedend en moedeloos ná wateronderbrekings wat reeds weke lank voortsleep. Volgens berigte in die Daily Maverick is gemeenskappe in Midrand, Melville, Brixton en Yeoville op breekpunt, met skole en ondernemings wat moes sluit terwyl inwoners voel die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit reageer traag en ondeursigtig op ’n krisis wat hul daaglikse bestaan lam lê. Protesoptogte buite die metro se raadskamers, soos berig, getuig van ’n groeiende gevoel dat basiese dienslewering besig is om in duie te stort.
Die frustrasie is nie bloot emosioneel nie; dit is prakties en finansieel. ’n Verslag deur IOL wys hoe huishoudings en klein ondernemings in onder meer Randburg en Zandspruit dae lank sonder water sit, soms met tienduisende mense wat op slegs ’n handjievol watertenks aangewese is. Restaurante, kospunte en karwasserye moet water aankoop om oop te bly, terwyl inwoners betaal vir ’n diens wat eenvoudig nie gelewer word nie.
Nog ’n IOL-berig beklemtoon hoe Rand Water die toevoer moes verminder weens oorverbruik en druk op die stelsel, maar die narratief van “hoë verbruik” vertel nie die volle storie nie. Soos uitgelig in Sunday World, lewer Rand Water grootmaatwater aan munisipaliteite; dit is die munisipaliteite wat verantwoordelik is vir verspreiding, onderhoud en lekkasies. Wanneer Johannesburg sy lisensietoelae oorskry en meer as ’n derde van behandelde water verlore gaan weens lekkasies en wanbestuur, is dit nie ’n huishoudelike stort wat die krisis veroorsaak nie, dit is strukturele verval.
Die omvang van die infrastruktuurprobleem is skokkend. Volgens Netwerk24 moet Johannesburg se 12 000 km lange waternetwerk grotendeels vervang word en slegs 25 van meer as 80 reservoirs verskaf tans voldoende water. Dit dui op ’n stelsel wat lankal oor sy lewensduur funksioneer, met noodmaatreëls soos watertenks wat slegs simptome blootlê, nie die oorsaak nie.
Intussen wys beeldmateriaal hoe inwoners buite Johannesburg Water se kantore betoog en dringende herstelwerk eis. Die krisis het selfs politieke verleentheid veroorsaak nadat die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, erken het hy moes by ’n hotel stort – ’n opmerking wat volgens Netwerk24 vir baie inwoners soos ’n klap in die gesig gevoel het.
President Cyril Ramaphosa het in sy SONA-toespraak die waterkrisis as ’n nasionale prioriteit verklaar en miljarde vir infrastruktuur belowe en tog bly die kernvraag: Waarom het dit só ver gevorder?
Die realiteit is dat Johannesburg se krisis nie ’n natuurramp is nie, maar die gevolg van jare se onvoldoende onderhoud, verwaarlosing, swak bestuur en politieke skuldverskuiwing. In plaas daarvan om inwoners vir “oorverbruik” te blameer, behoort die fokus te val op lisensienakoming, drastiese vermindering van waterverliese en ’n gefaseerde, deursigtige pypvervangingsplan. Sonder aanspreeklikheid en daadwerklike implementering sal beloftes bloot papierwerk bly en sal droë krane die nuwe normaal word.
Zel-Marí Gelderblom is ’n koördineerder van inhoud en mediaverhoudinge by AfriForum en het ’n meestersgraad (cum laude) in genderpolitiek aan die Nelson Mandela-Universiteit behaal. Sy is ook die aanbieder van AfriForum in fokus.



