|

Water: SA se volgende krisis

Deur Marthinus Koekemoer

Dorpe en stede in Suid-Afrika wat vir dae, weke of selfs maande sonder water moet klaarkom, het ’n algemene verskynsel in Suid-Afrika geword. Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, gesels in die jongste episode van sy selfbestuurreeks met Lambert de Klerk, hoof van Omgewingsake by AfriForum, oor die waterkrisis in die land.

Waterprobleme kom al veel langer voor in plaaslike munisipaliteite as in die land se metropolitaanse munisipaliteite. Inwoners van dorpe soos Parys, Bethal en Lichtenburg sukkel gereeld met wateronderbrekings en as daar water is, is dit dikwels besoedel en ongeskik vir menslike gebruik. Waar metros oor die algemeen nog goed vaar, kan Johannesburgers ook getuig van die probleme wat hulle verlede jaar vir weke sonder water gelaat het.

De Klerk sê waterverliese is een van die grootste bydraende faktore tot die waterkrisis in die land. “Waterlekkasies veroorsaak dat meer as 40% van behandelde water vermors word. Dit getuig van die swak instandhouding wat munisipaliteite toepas. AfriForum het verlede jaar ’n veldtog van stapel gestuur as deel van ’n poging om munisipaliteite verantwoordbaar te hou vir waterlekkasies. Vinnige herstelwerk is uiters belangrik om waterverliese te beperk,” beklemtoon hy.

AfriForum het ’n webwerf vir hierdie veldtog op die been gebring waarop waterlekkasies aangemeld kan word en sodoende vinniger herstelwerk moontlik te maak. Waterlekkasies wat op hierdie webwerf aangemeld word, word aan die betrokke munisipaliteit aangestuur sodat dit herstel kan word. (Besoek www.waterkrisis.co.za vir meer inligting.)

“Elke persoon kan ook hul deel doen om water te help bespaar. In Suid-Afrika gebruik elke persoon gemiddeld 270 tot 290 liter water per dag. Internasionaal is die gemiddeld 170 liter per persoon per dag. Daar is dus ruimte vir ons om te verbeter,” sê De Klerk.

Benewens die reusevermorsing wat as gevolg van waterlekkasies en onverskillige gebruik plaasvind, is waterbesoedeling ook ’n groot probleem. Suid-Afrikaanse ekosisteme verkeer onder geweldige druk en besoedeling is reeds in byna elke rivier in die land ’n probleem. Die vervalle toestand van die meerderheid van die land se rioolaanlegte is een van die hoofbronne van dié besoedeling. Intussen toon AfriForum se navorsing wat in die organisasie se jongste blou-en-groendruppelverslag ingesluit is, dat slegs 2% van rioolaanlegte in die land op standaard is.

AfriForum beveg nie net die vermorsing-, besoedeling- en wanbestuursprobleme in die voorsiening van water nie, maar bring ook op ’n meer onmiddellike en tasbare wyse verligting aan inwoners wat daagliks met waterprobleme gekonfronteer word. Een van die maniere waarop AfriForum help is deur die sowat 100 AfriForum-noodwaterpunte oor die land heen. Dié waterpunte is nie afhanklik van munisipale watervoorsiening nie, word deur AfriForum-takke befonds en word deur middel van boorgate of met die hulp van lede van die gemeenskap insluitend boere opgevul. In Bethal alleen het die noodwaterpunt op dié dorp al meer as 2 miljoen liter water aan die gemeenskap voorsien.

“Die privaat sektor het ’n reuserol om te speel om ’n waterkrisis in die land te verhoed. Aan sy eie oorgelaat, sal ekosisteme in die land jare neem om van die skade wat reeds aangerig is, te herstel. Gemeenskappe vind reeds sonder staatshulp hul eie oplossings, maar dit gaan ook beteken dat water al duurder gaan word,” sê De Klerk.


Volgens Van Zyl is daar is steeds Suid-Afrikaners wat nie weet dat die land in ’n waterkrisis gedompel is nie. “Hulle sien en voel dit nog nie. Daar is egter reeds miljoene wie se lewens gereeld ontwrig word deur waterverwante probleme. Die goeie nuus is dat organisasies insluitend AfriForum al lank gelede dié krisis sien kom het, en dus reeds vir jare al besig is om gemeenskappe te help om meer weerbaar daarteen te raak.”

Kyk die volledige video hier.  

Soortgelyke plasings