Voorgestelde anti-terreur wetsontwerp vergemaklik tirannie deur die staat
Gore Vidal het gesê: “Wat burgerlike vryhede betref, kan enigiemand wat nie waaksaam is nie, hom eendag bevind, indien nie in ‘n polisiestaat nie, ten minste in ‘n polisiestad.”
Die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Polisie het onlangs geluister na mondelingse voorleggings wat die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Grondwetlike Demokrasie teen Terroriste en Verwante Aktiwiteite betref. AfriForum en ander burgerlike samelewingsorganisasies het by hierdie geleentheid mondelingse voorleggings gedoen en in Augustus 2022 skriftelike kommentaar teen hierdie voorgestelde wetgewing ingedien.
’n Opdatering van hierdie wet in soverre dit poog om dit in lyn te bring met die nuutste ontwikkelinge in die internasionale reg en uitsprake in die Konstitusionele Hof is beslis welkom en nodig. Verskeie bepalings in die wetsontwerp, wat van voorneme is om groter magte aan die regering en die polisie te verleen, maak egter onregverdig inbreuk op verskeie fundamentele grondwetlike regte, insluitend die regte op vryheid van uitdrukking en assosiasie; politieke vryheid, reg op privaatheid; tot gewetensvryheid; toegang tot inligting, ensovoorts.
Voorbeelde van hoe die vaagheid en oormatige wydheid van die wet se definisies van “terreuraktiwiteit” en “terreurverwante materiaal”, gekombineer met uitgebreide diskresionêre magte van ondersoek en optrede, rampspoedige uitwerking kan hê, is nie moeilik om in te sien nie. Die broeiende politieke storm rondom die beweging vir Kaapse afstigting is hier relevant. Onder die huidige definisie en met die aanvaarding van die nuut voorgestelde maatreëls, sal enige persoon wat afstigting voorstaan of “aanmoedig” krimineel aanspreeklik en kwesbaar wees vir verbod op toegang tot inligting of finansies gebaseer op die verlaagde standaard van “redelike gronde” en die idee om te poog om die “eenheid” of “gebied” van Suid-Afrika in gevaar te stel.
Hierdie moontlikheid van regering-magsmisbruik, wat hierdie wetsontwerp sou moontlik maak, sal elke Suid-Afrikaner raak wat betrokke is by die aanlyn politieke wêreld, of selfs voorgee om ‘n effens kontroversiële saak te ondersteun.
Die bekende RICA-kontroversie en misbruik van onderskeppingsprosesse teen ondersoekende groepe soos amaBhungane dien as ’n uiters kommerwekkende voorbeeld van hoe uitgebreide ondersoekmagte meer skade as goed veroorsaak. Die voorgestelde maatreëls hou presies dieselfde risiko’s in.
Die geskiedenis is belaai met voorbeelde van wetgewing wat misbruik word om kritici van regerings in hegtenis te neem en tronkstraf toe te dien onder die dekmantel van die bekamping van terrorisme. Dit is nog vars in die geheue van baie Suid-Afrikaners dat hierdie presiese taktiek ook deur die vorige regime gebruik is.
In sy huidige vorm maak hierdie wetsontwerp die deur oop vir wydverspreide mishandeling om kritici van die regering of sy beleid stil te maak en in die tronk te sit. Ons hoef nie ver te soek vir voorbeelde nie. In 2022 is berig dat interne e-posse binne die Departement van Gesondheid groepe wat teen die regering se voorgestelde gesondheidsregulasies gekant is, beskryf het as ‘aanhitsing van terrorisme’ en ‘sabotasie’.
Die werklike struikelblok in die pad van ‘n effektiewe anti-terrorisme strategie is nie onvoldoende wetgewing nie, maar effektiewe implementering van die bestaande wetgewing. Die regering se inperkings tydens die Covid-19-pandemie het bewys dat die toestaan van meer mag en beheer aan die polisie en die regering onverstandig sou wees. Die bestaande wetlike raamwerk is voldoende. Die probleem is implementering en uitvoering deur staatsorgane in die lig van wydverspreide gebrek aan voldoende hulpbronne, korrupsie, wanbestuur en kaderontplooiing.