Só moet ’n mond praat! Gautengse laerskole debatteer dat dit klap
Deur Ilze Nieuwoudt
Vreesloos.
Dít is hoe die 72 leerders wat Vrydag aan AfriForum se derde Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie vir Gautengse laerskole deelgeneem het, te werk gegaan het. Waar hoërskoolleerders en studente al vanjaar vir die tiende jaar hierdie taai kompetisie met ’n tikkie spanning aanpak, is hierdie “normale” emosie skynbaar afwesig by die gr. 6- en 7-leerders wat by Hoërskool Montana in Pretoria byeengekom het om te debatteer.
Die debatspanne van Laerskool Anton van Wouw, Pretoria-Oos, Wonderboom, Constantiapark, Concordia, Hennopspark, Rynfield en Louis Leipoldt het almal met mening meegeding om die titel as Gauteng se top Dink of Sink-laerskolespan op te raap.
Boonop was geen tema, waaroor daar binne enkele minute ’n argument ten gunste of strydend gedebatteer moes word, te moeilik vir dié spanne nie en kon temas soos die implementering van langer Desembervakansies of die verpligte speel van musiekinstrumente op laerskoolvlak moeiteloos gedebatteer word.
Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys, verduidelik dat, hoewel die laerskoolbeen van dié suksesvolle debatskompetisie nou eers vir die derde keer in Gauteng aangebied word, die gehalte van vanjaar se debatte reeds organiseerders se stoutste verwagtinge oortref het.
Pret, plesier én ’n uitstekende leerskool: Ouers en leerders vertel
Met hope selfvertroue en vlugvoetige (en dikwels spitsvondige) argumente het die 24 debatspanne gesorg vir skerp en ingeligte debatte.
Dit is juis hierdie vaardighede – om met selfvertroue standpunt in te neem en op jou voete te kan dink – wat Dink of Sink by leerders en jongmense kweek, wat dit so ’n uiters gewilde én waardevolle debatskompetisie maak. Hieroor is die jong debatteerders en hul ouers dit eens.
Volgens Pieter Visagie, ’n ouer van ’n gr. 6-deelnemer van Laerskool Constantiapark, is deelname aan debatskompetisies ’n waardevolle leerskool. Nie net leer dit kinders om standpunt in te neem nie, maar dit bied ook die geleentheid om as deel van ’n gemeenskap te funksioneer en met behulp van kennis oor aktuele sake argumente te vorm.
Hilde Eksteen, ’n gr. 7-deelnemer van Laerskool Constantiapark, het vanjaar vir die tweede keer aan dié debatskompetisie deelgeneem. Sy meen Dink of Sink leer haar “hoe om op ’n respekvolle manier te argumenteer”, terwyl FP van der Merwe, ’n gr. 7-debatteerder van Laerskool Pretoria-Oos, reken dat die kompetisie hom leer om vinnig op sy voete te dink.
Vir nuwelinge en deelnemers wat al voorheen hul hand aan Dink of Sink gewaag het, was vanjaar se kompetisie opwindend en talle gr. 7’s sien reeds uit daarna om aanstaande jaar se hoërskoolkompetisie te pak.
Louis Leipoldt kraai koning
Na afloop van 36 debatte wat binne die bestek van skaars drie ure plaasgevind het, het Laerskool Louis Leipoldt (span 1) en Laerskool Rynfield (span 1) bo-aan die punteleer geëindig en mekaar die stryd aangesê in die finale ronde van die provinsie se kompetisie.
’n Titaniese woordestryd is gevoer tussen Louis Leipoldt se René Ferreira, Nina Nell en Helena Schabort en Rynfield se Hendré van der Westhuizen, Callum Craig en Luther du Randt.
In dié debat moes die Rynfield-span behoorlik bontstaan om die Louis Leipoldt-span se argumente ten gunste van die implementering van ’n bykomende inheemse taal as verpligte laerskoolvak te weerlê. Terwyl Louis Leipoldt geargumenteer het dat die aanleer van ’n bykomende inheemse taal talle voordele inhou, was Rynfield gedwing om die nutteloosheid van inheemse tale op ’n internasionale vlak te redeneer.
Nie een van die spanne het egter bes gegee nie en bewapen met feite het beide spanne soos ratels vasgebyt en hul skerp en telkens spitsvondige argumente enduit gevoer. Louis Leipoldt se span het egter uiteindelik die knoop finaal deurgehaak en met die louere weggestap.
Beide spanne het na afloop van die finaal met Forum Nuus gesels.



