|

Regering het toe groot hand in “Nie in ons naam nie”-ope brief

Die omstrede “Nie in ons naam nie”-ope brief, wat sowat ’n week gelede uitgereik is, het opnuut die wenkbroue laat lig ná dit aan die lig gekom het dat die regering ’n hand daarin gehad het. In dié brief sê ’n groep van 44 Afrikaners, wat prominente persone soos Max du Preez, Gert Grobler en prof. Wannie Carstens insluit, dat hulle die narratief dat Afrikaners slagoffers van rassistiese vervolging in postapartheid-Suid-Afrika is verwerp. Die brief is ook gebruik om organisasies insluitend AfriForum en Solidariteit aan te val.

Rapport het gister (2 November 2025) berig dat Karen Burger, wat in die kantoor van Zane Dangor, die direkteur-generaal van die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco) werk, die konsep vir die brief opgestel het met die idee om ’n groep Afrikaners te kry om dit te onderteken. Sy het ontken dat sy die amptelike verklaring opgestel het, maar wel toegegee dat sy gehelp het om steun daarvoor te werf.

In die brief word instellings soos AfriForum en Solidariteit op die naam genoem en gesê dat nie een van die twee of enige ander organisasie namens alle Afrikaners kan praat nie. Die ANC-regering het die brief geprys, maar die brief is uit ander oorde gekritiseer.

“Getrou aan die leuenagtigheid van dié wat AfriForum aanval, het die regeringslid dit eers ontken dat sy die konsep geskryf het, maar moes dit toe erken toe sy met die inhoud van een van haar eie WhatsApp-boodskappe gekonfronteer is. Dié onderduimse optrede van die regering strook ongelukkig met die bewerings dat die regering se veiligheidsdienste, met die medewerking van ’n paar akademici, joernaliste en enkele naïewe afgetredenes, poog om AfriForum en die Solidariteit Beweging te diskrediteer. Uit die oorweldigende teenstand wat Afrikaners teen die 44 se verklaring toon, is dit duidelik dat die ANC en sy bondgenote se poging klaaglik misluk,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het aan Maroela Media gesê hy het van die begin af gedink die inhoud van die brief is besonder vreemd. “Dit was op sosiale media duidelik dat daar bykans geen steun daarvoor is nie,” sê hy.

Hy meen die verklaring het uit die staanspoor die indruk geskep dat dit met ’n agenda opgestel is of deur iemand wat uit voeling met gewone Afrikaners is, geskryf is. Met die betrokkenheid van die regering by die verklaring sê Hermann dat dit waarskynlik ’n kombinasie van die twee was.

Kriel en Hermann het benadruk dat daar wel individue is wat waarskynlik uit eie oortuiging die brief onderteken het wat ongelukkig in die bedenklike projek meegesleur is en moontlik vir ’n agenda misbruik word.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners, Magsmisbruik