NVG bevestig daar was onvoldoende bewyse in Bergview-saak – AfriForum-optrede teen valse beskuldigings deur Mbalula, Malema en kie op pad
AfriForum se Privaatvervolgingseenheid verwelkom die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se bevestiging vroeër vandag dat daar onvoldoende bewyse was om ’n suksesvolle vervolging van verkragting of seksuele aanranding van ’n minderjarige meisie van die Bergview College in Matatiele in die Oos-Kaap te ondersteun. Die eenheid beklemtoon dat dié bevinding die weergawes van die skoolhoof, Jaco Pieterse, en skoolopsigter, Malume (skuilnaam) bevestig. Albei mans is kliënte van die eenheid.
In die lig van die jongste verwikkelinge in dié saak herbevestig die eenheid ook sy verbintenis om aanspreeklikheid te verseker vir die individue wat Pieterse en Malume valslik van verkragting beskuldig het, en sal in die komende weke klagtes indien teen Fikile Mbalula (sekretaris-generaal van die ANC), Julius Malema (EFF-leier), Fundile Gade (LUR van Onderwys in die Oos-Kaap) en ander.
Pieterse en Malume, sowel as ander personeel wat op 14 Oktober verlede jaar, die dag van die beweerde verkragting, op die skoolterrein was, het dit onomwonde gestel dat indien die kind inderdaad verkrag was, dit nie by die skool plaasgevind het nie. Pieterse en die betrokke personeel se weergawe is gedokumenteer in kommunikasie wat reeds verlede jaar deur die skool aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die kind se ouers deurgegee is.
Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid, doen ’n dringende beroep op die NVG, SAPD en ander entiteite in die strafregstelsel om hierdie bevinding en die rasionaal daarvan aan die familie en die publiek te kommunikeer en daarmee ’n einde te maak aan die voortslepende valse bewerings teen Pieterse en Malume. “Dit is diep kommerwekkend dat daar nou bevestig is dat die SAPD en NVG in November 2024 bewus was van die bewyse, oftewel die gebrek daaraan, in die saakdossier. Dit dui daarop dat die daaropvolgende insameling van mondmonsters ’n misbruik van die proses was.”
Bateman sê dié ongure sage het die staat se skynbare swakheid vir eksterne inmenging in ondersoeke blootgelê, terwyl dit uitsluitlik deur die getuienis in die dossier gelei moes gewees het. “Ons beoordeling van die feite dui op ’n onrusbarende wyse daarop dat die enigste redelike afleiding wat gemaak kan word, is dat die owerhede toegelaat het dat hulle deur naamlose en gesiglose sleutelbordkrygers geïntimideer is om ’n saak te ondersoek. Dit ten spyte daarvan dat daar, nadat die slagoffer ondersoek is, nie voldoende bewyse van verkragting of seksuele aanranding in die dossier ingesluit is nie. Dit het daartoe gelei dat onskuldige mense in die oë van die publiek skuldig bevind is.
“Polisiespeurders moet gelei word deur bewyse, nie deur die openbare mening nie, want dit is bewyse wat ’n hof moet oorreed en geregtigheid moet bring vir slagoffers van misdaad, nie die irrelevante uitlatings van anonieme sosialemediaspeurders nie. As die owerhede versuim om ’n duidelike verduideliking te gee van wat gebeur het, kan dit ’n presedent skep waardeur gegriefde partye, wat sosialemedia-ondersteuners, politici en dié wat ’n spesifieke propaganda wil bevorder, byeen kan bring, ondersoeke kan rig en die verdagtes kan identifiseer. Dit sal ’n duidelike misbruik van die strafregstelsel wees en het die stukrag gegee om op te tree teen politici, sosialemediaspeurders en invloedryke persone wat ons kliënte skuldig bevind het aan verkragting,” sluit Bateman af.