Nuuskommentaar: Trump en SA, watter beleidsmaatreëls straf vir wie?
Sedert president Donald Trump se media-onderhoud Sondagaand, waarin hy gestel het dat toekomstige befondsing aan Suid-Afrika gestaak word hangende ’n ondersoek na die aaklige dinge wat in Suid-Afrika gebeur, was daar uiteenlopende reaksies van Suid-Afrika se inwoners. Aan die een uiterste is daar die wat nie wil sien dat daar enige verandering plaasvind in die VSA se verhouding met en befondsing aan Suid-Afrika nie. Aan die ander kant is daar die wat wil hê dat alle befondsing en handel met Suid-Afrika gestaak moet word.
Wat is egter die mees wenslike uitkoms vir dié wat buitelandse politieke druk op die ANC wil hê teen onteiening sonder vergoeding, maar nie gewone hardwerkende burgers wil straf nie? Om hierdie vraag te beantwoord moet ons eers ’n onderskeid tref tussen befondsing vanaf die VSA en handel met die VSA.
Die Verenigde State se Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling, beter bekend as USAID, het na raming verlede jaar tot soveel as 440 miljoen dollar aan Suid-Afrika geskenk.
Daar is betreklik min inligting beskikbaar oor presies waaraan al hierdie fondse toegewys is, maar die finansiering van MIV/Vigs-behandeling is een groot element daarvan. Die staking van hierdie befondsing kan sommige liefdadigheidsprogramme ernstig benadeel, maar daar bestaan bedenkinge oor hoe sinvol die geld tot dusvêr aangewend is, met Fox News wat berig het dat 30 miljoen dollar hiervan aan transgender MIV-navorsing bestee is. Dis belangrik om te onthou is dat die staking van USAID befondsing aan Suid-Afrika deel is van wyer begrotingsbesnoeiings van die Trump-administrasie, wat waarskynlik in elk geval sou gebeur al was die onteieningswet nie bekragtig nie.
Vryhandel met die VSA beloop heelwat groter bedrae. Onder die African Growth and Opportunity Act (oftewel AGOA) word tariefvrye toegang tot die Amerikaanse mark gebied vir ’n lang lys produkte uit Afrikalande. Die lande wat wil toegang hê hiertoe moet egter aan sekere kriteria voldoen, wat die beskerming van privaat eiendomsreg insluit. Een raming het die totale Suid-Afrikaanse uitvoere na Amerika onder AGOA bereken op 6.5 miljard dollar vir 2024 alleenlik. Die regering het Suid-Afrika reeds de facto ongeskik gemaak om deel te bly van AGOA deur die onteieningswet te bekragtig, maar Amerika moet nog ’n finale besluit hieroor aankondig.
Dus lyk geteikende sanksies teen ANC-verbonde individue en besighede tans na die mees wenslike uitkoms waarop ons kan hoop.
Indien Suid-Afrika binnekort uitgesluit gaan word van die AGOA vryhandelooreenkoms sal verskeie plaaslike ondernemings en boerderye hieronder ly. Daarom het organisasies soos AfriForum en die Solidariteit Beweging ’n oproep gedoen aan die Trump-administrasie om eerder geteikende sanksies teen Suid-Afrikaanse politici in te stel. Dit kan insluit dat Amerikaanse bankrekeninge en ander bates van persone of maatskappye met bande aan die ANC bevries word en dat sulke persone verbied word om na die VSA te reis.
Dit is nie ’n gegewe dat geteikende sanksies die ANC sovêr sal kry om die onteieningswet terug te trek nie, maar aan die ander kant sal algehele uitsluiting uit AGOA ook nie noodwendig daarin slaag nie en dan word talle gewone burgers onnodiglik hierdeur gestraf. Dus lyk geteikende sanksies teen ANC-verbonde individue en besighede tans na die mees wenslike uitkoms waarop ons kan hoop.
*Boshoff is ’n veldtogbeampte by AfriForum.