Nuuskommentaar: Ongerymdhede in Netbal SA nie nuut
Byna twee jaar nadat AfriForum sy tweede dokumentêr oor wanpraktyke in Netbal Suid-Afrika (NSA) bekendgestel het, het Wêreldnetbal Cecilia Molokwane, president van Netbal SA, voorlopig geskors.
In hierdie dokumentêre het verskeie fluitjieblasers en rolspelers wat by NSA betrokke was, aantygings teen Molokwane gemaak. Molokwane is toe al beskuldig van magsmisbruik, inmenging by keuringsprosesse en die afkraak van jong spelers wat daarna nie weer aan dié sport wou deelneem nie. Ander ongerymdhede in dié sportfederasie is ook onder die loep geneem.
Christine du Preez, voormalige visepresident van NSA, het toe al beweer dat daar finansiële ongerymdhede by dié federasie is. Sy het destyds gesê die Wêreldbekertoernooi was ’n voorbeeld van wanbestuur in netbal in die land.
Gemeet aan die mediaberigte wat die ronde doen na afloop van die NSA-raad se verskyning voor die parlementêre Portefeuljekomitee vir Sport, Kuns en Kultuur vroeër hierdie week om verslag te doen oor die Wêreldbeker-netbaltoernooi, is dit duidelik dat daar ernstige wanpraktyke in dié federasie is.
Nie net is R33 miljoen gebruik om houtvloere vir netbalbane te koop nie, maar nóg R30 miljoen, waarvan die state nog geoudit moet word, is glo gebruik vir skerms vir die toernooi en die bekendstelling van die gelukbringer.
Buiten vir die feit dat die verslag wat gelewer moes word, ná meer as ’n jaar ná die sperdatum steeds nie afgehandel is nie, is die raad ook oor die vingers getik omdat hulle die finansiële verslae mondelings oorgedra het. NSA kon ook nie antwoorde verskaf vir uitgawes van net meer as R200 000 in die 2022/2023-boekjaar nie.
Dit het ook tydens dié sitting aan die lig gekom dat NSA se waarnemende finansiële hoof, Thabang Moses, in 2022 weg is by Boks SA weens bewerings van korrupsie.
Dit is verregaande dat ’n finansiële hoof aangestel word nadat hy weg is by ’n ander federasie weens beweerde ongerymdhede. Dit is ook verregaande dat NSA nie destyds inligting aan Joseph Taylor, ’n gekwalifiseerde netbalafrigter en skeidsregter, verskaf het oor finansiële ongerymdhede tydens Molokwane se ampstermyn nie. Dit ten spyte van ’n aansoek wat hy juis hieroor ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) gebring het.
NSA se weiering om hierdie inligting te verskaf, was kommerwekkend en AfriForum was toe al van mening dat Molokwane se optrede en gebrek aan optrede bygedra het tot die stand van sake in NSA.
Indien NSA destyds al op hierdie bewerings gereageer het, sou hierdie sportfederasie nie nou moes bontstaan om hierdie voetfoute te hanteer nie. Daadwerklike ingryping is nodig om hierdie sport te red en die beweerde wanpraktyke wat al vir etlike jare voortduur, uit die weg te ruim.
Meer moet ook gedoen word om diegene wat verantwoordelik is vir wanbestuur vas te vat en daar moet seker gemaak word dat iemand wat reeds by ongerymdhede betrek word, nie by ’n ander federasie aangestel word nie.
Molokwane het voor haar skorsing reeds aangedui dat sy beskikbaar is om NSA vir nog ’n termyn te dien. Mense in die NSA-binnekringe het al beweer dat Molokwane glo sy is onaantasbaar. Het die tyd eindelik aangebreek dat sy en diegene in NSA se beweerde ongerymdhede en wanpraktyke aan die groot klok gehang gaan word? Tyd sal moet leer.