|

Nuuskommentaar: Die bittere uitkringeffek van bek-en-klouseer

Deur Zel-Marí Gelderblom

Bek-en-klouseer is nie bloot nóg ’n landbousiekte nie. Dit is die direkte gevolg van ’n staat wat oor jare versuim het om sy kernverantwoordelikhede, soos die beskerming van die land se dieregesondheid en voedselstelsel, na te kom.

Vir AfriForum is dit duidelik dat hierdie krisis nie net deur ’n virus veroorsaak word nie. Hierdie krisis word aangevuur deur sistemiese swak bestuur, ontoereikende biosekuriteit en  gesentraliseerde beheer wat eenvoudig nie werk nie. Intussen betaal boere die prys met verlore inkomste, geslote uitvoermarkte en ’n toenemende finansiële wurggreep.

Die regering se reaksie op dié krisis is boonop traag, reaktief en onvoldoende. Weens entstoftekorte, gebrekkige koördinering en ’n gebrek aan deursigtige kommunikasie is produsente se hande afgekap. Huidige inentings bied nie noodwendig effektiewe beskerming teen plaaslike veldstamme nie. Intussen word boere verhinder om in samewerking met die privaat sektor die las te help dra. Volgens AfriForum is dit onaanvaarbaar dat ideologiese sentralisering belangriker geag word as praktiese oplossings.

Die grootste aanklag teen die huidige hantering van die krisis is die tol wat dit onder mense eis. Boere staan nie net voor ekonomiese verliese nie; hulle beleef emosionele uitbranding, skuldlas en ’n gevoel van totale magteloosheid. Dat ’n noodlyn vir boere wat emosioneel oorweldig voel nou nodig is, is ’n stille aanklag teen ’n stelsel wat sy produsente in die steek laat het. Hierdie krisis het lankal die grens van ’n tegniese veeartsenykundige probleem oorgesteek – dit is ’n nasionale morele toets.

Terwyl uitbrekings in Gauteng, Noordwes, KwaZulu-Natal en die Vrystaat voortduur, word die verantwoordelikheid verskuif en die skuld herverpak. AfriForum waarsku egter dat die voortgesette verspreiding van bek-en-klouseer ’n direkte bedreiging vir werksgeleenthede, voedselsekerheid en ekonomiese stabiliteit inhou. Sonder streng bewegingbeheer, doeltreffende naspeurbaarheid en ’n herstel van ’n funksionele staatsveeartsenydiens sal die situasie verder versleg.

Plaaslike virusstamme is vroeër vanjaar, vir die eerste keer sedert 2011, na die Pirbright Instituut in Brittanje – die wêreld se verwysingslaboratorium vir bek-en-klouseer – gestuur. Volgens ’n onlangse berig hieroor op www.landbouweekblad.com toets Pirbright “die doeltreffendheid van die entstof teen BKS-stamme in ’n land” om te bepaal “hoe goed die ingeënte bees se teenliggame die virus bestry”. Dié stap is welkom, maar kom hopeloos te laat. Die vraag bly: Hoekom moes dit 14 jaar neem om weer dié toetse te onderneem? Hierdie vertraging benadruk dit waaroor AfriForum al lank reeds waarsku, naamlik dat proaktiewe wetenskaplike monitering plek gemaak het vir “brandblusbestuur”.

Lande soos Brasilië en Bolivië bewys dat sukses moontlik is waar politieke wil, sterk veeartsenykundigedienste en volgehoue samewerking bestaan. Suid-Afrika, daarenteen, bly vasgevang in ’n siklus van uitbrekings en noodmaatreëls. Die les is duidelik: Sonder ’n heropbou van institusionele kapasiteit en ’n gereguleerde vennootskap met die privaat sektor sal geen hoeveelheid verklarings of ad hoc-maatreëls die krisis keer nie.

Vir AfriForum is die oplossing nie die prysgawe van beheer nie, maar die hervorming daarvan met deursigtigheid, samewerking en daadwerklike aanspreeklikheid. Bek-en-klouseer is nie meer ’n geïsoleerde landboukwessie nie; dit is ’n toets van die regering se vermoë om die land se ekonomiese en voedselveiligheidsbelange te beskerm. Elke dag se versuim verdiep die skade. Die tyd vir verskonings is verby.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik