|

Nuuskommentaar: Cele blaas belastingbetalers se geld, tyd dat hy bedank

Bheki Cele, minister van polisie, se gewildheid is al jare lank aan die kwyn. Die belaglike wyse waarop sekere reëls en regulasies tydens die Covid-19-pandemie deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) toegepas is, het landsburgers die mure uitgedryf. Dan maak hy ’n gewoonte daarvan om mense te verskree of sien ’n mens dat sy lyfwagte hul magte vêr oorskry. Om alles te kroon is daar verlede week berig dat amper R500 000 van belastingbetalers se geld verkwis is vir Cele se assistent om hom na die Rugby Wêreldbeker-eindstryd te vergesel.

’n Mens wonder onmiddellik hoekom dit vir die minister van polisie nodig is om ’n sportbyeenkoms in die buiteland by te woon terwyl misdaad in die land heeltemal handuit geruk het. Cele het in ’n parlementêre antwoord gesê ’n “privaat maatskappy” het vir sy reis- en verblyf-onkoste betaal. Sy departement moes wel R33 000 opdok om onder meer vir sy reisversekering te betaal. Dit het belastingbetalers egter amper R450 000 uit die sak gejaag vir Cele se uitvoerende assistent se reis, verblyf en dies meer om hom na die Wêreldbeker te vergesel.

As dit belaglik klink is dit omdat dit belaglik is. Die polisie se dienslewering word reeds beperk deur krimpende begrotings en om amper ’n halfmiljoen rand aan ’n uitspattige reis na ’n sportbyeenkoms te blaas is verregaande.

Ander skokkende syfers wat die SAPD aanbetref, is die amper 4 000 polisiebeamptes wat sedert 2019 vir verskeie misdade aangekla is, maar steeds vir die polisie werk. AfriForum het ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die SAPD gestuur om gedetailleerde inligting te bekom oor die aantal polisielede wat tans onbevoeg is om ’n vuurwapen te hanteer. AfriForum het reeds inligting bekom dat ’n beduidende aantal polisielede onbevoeg is en dit selfs ná regulasies reeds verslap is om lede toe te laat om elke vyf jaar bevoegdheidtoetse af te lê pleks van elke 12 maande.

Met die voorbeeld wat Cele dikwels in die openbaar stel is dit glad nie verbasend dat SAPD-lede nie basiese reëls kan volg nie. Die minister is onlangs opdrag gegee om Ian Cameron van Action Society om verskoning te vra weens ’n uitbarsting verlede jaar by ’n openbare vergadering toe Cameron in Gugulethu, Kaapstad, Cele oor misdaad in die omgewing uitgevra het. Cele het herhaaldelik vir Cameron geskree “bly stil, bly stil!” waarna Cameron onder dwang uit die vergadering verwyder is. Of Cele wel om verskoning sal vra is ’n ope vraag, maar Cameron het reeds gesê ’n verskoning sal van min waarde wees mits Cele nie ook bedank nie.

Cameron slaan die spyker op die kop. Cele móét bedank. Hy het duidelik nie ’n benul of die wil om die misdaadkrisis in Suid-Afrika die hoof te bied nie. Dit is hoog tyd dat Suid-Afrikaners van hom ontslae is en iemand wat weet wat hulle doen as minister van Polisie aangestel word.

Soortgelyke plasings