NGV kan verreikende impak op gesondheidsorg hê
Deur Megan Swart
Die Departement van Gesondheid skets jare lank reeds ’n utopiese beeld van Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en voer aan dat dit gelykheid op die mees basiese vlak sal bevorder. Daarvolgens sal alle burgers gelyke toegang tot noodsaaklike gesondheidsorg hê en sal mediese kundigheid meer doeltreffend oor die land heen versprei word. Of so word aangevoer. Omvattende navorsing deur onder andere AfriForum oor die kwaliteit van gesondheidsorg en die verwagte impak van NGV op die bedryf in geheel, dien egter as bewys dat die departement lugkastele bou.
NGV: Grootskaalse uitvloei van kundigheid én die einde van gehalte sorg wag dalk
Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het in 2023 bevind dat die implementering van NGV verreikende gevolge vir gesondheidsorg sal inhou, spesifiek met betrekking tot die kwaliteit van sorg. Daar word verwag dat die kwaliteit van sorg ook skerp sal daal wanneer daar uiteindelik ’n uitvloei van mediese kundigheid is.
Die SNI het onder meer bevind dat 94% van respondente, wat self in die bedryf werk, glo dat die implementering van NGV ’n grootskaalse uittog van medici uit die land sal ontketen. Sowat helfte van die respondente het boonop aangedui dat hulle dadelik met die emigrasieproses sal begin as NGV geïmplementeer word.
”In plaas daarvan om kapasiteit uit te brei, sal daar na verwagting ’n beduidende vermindering in die aantal gesondheidsorgwerkers, -verskaffers en -fasiliteite wees sodra die NGV geïmplementeer word,” lui AfriForum se navorsingsverslag oor NGV.
’n Verslag wat in 2023 deur die Organisation for Economic Co-operation and Development (OECD) vrygestel is, het onthul dat daar reeds meer as 23 400 Suid-Afrikaanse gesondheidswerkers in die Verenigde Koninkryk, Nieu-Seeland, die VSA en Australië werksaam en woonagtig is. Dit terwyl daar sedert 2022 ’n beduidende vaardigheidstekort van meer as 27 000 gesondheidswerkers in die land is.
Luidens navorsing wat in Augustus 2025 in die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) se vaktydskrif South African Journal of Bioethics and Law (SAJBL) verskyn het, is daar tans net 0,3 dokters vir elke 1 000 pasiënte in die land. Dit is veel minder as die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se aanbeveling van 2,5 dokters vir elke 1 000 pasiënte.
Ondanks die reusetekort aan opgeleide dokters, het nog ’n terugslag die mediese bedryf vroeg verlede jaar getref toe dit bekendgemaak is dat meer as 1 800 mediese dokters ná die afhandeling van hul verpligte gemeenskapsdiensjaar steeds nie werk in die openbare sektor kan kry nie. Die Gesondheidsdepartement se begrotingstekorte is as rede hiervoor voorgehou.
Intussen daal verpleegpersoneel se getalle ook as gevolg van departementele hervormings in opleidingsprotokolle, institusionele akkreditasieprosedures en moratoria op verpleegonderwys en -opleiding. Desondanks privaat gesondheidsorgverskaffers soos Netcare se aanbod om nog verpleegsters op te lei.
“As die volgehoue uitdagings in ag geneem word, is dit hoogs waarskynlik dat hierdie professionele persone aktief werksgeleenthede in die buiteland sal soek,” sê Louis Boshoff, AfriForum se NGV-woordvoerder.
Alhoewel Suid-Afrika se openbare gesondheidsektor sorg aan altesaam 84% van pasiënte in die land bied, het hierdie bedryf ook oor die afgelope dekade jaarliks duisende dokters en verpleegpersoneel aan onder meer die privaat sektor afgestaan. Dié verskuiwing het reeds tot groot getalle vakante poste gelaat, met instellings wat ’n vakaturekoers van 5% tot 22% aanmeld.
Dr. Aaron Motsoaledi, minister van Gesondheid, het in Julie 2025 in ’n antwoord op ’n vraag in die parlement onthul dat altesaam 12 745 dokters en 58 897 verpleegpersoneel tussen 2013 en 2025 uit die openbare sektor bedank het. Bedankings het in 2021 en 2022, kort nadat die Covid-19-pandemie gesondheidswerkers gedwing het om ’n onvolhoubare werkslas te dra, ’n kommerwekkende hoogtepunt bereik.
“Dit is geen wonder dat die implementering van NGV dreig om die bestaande vaardigheidstekort verder te vererger nie,” sê Boshoff.
Groter toegang tot gesondheidsdienste bied nuwe uitdagings
AfriForum Navorsing se 2023-verslag wys daarop dat die implementering van NGV tot ’n toename in die vraag na gesondheidsorg sal lei omdat individue wat nie voorheen gesondheidsorg kon bekostig nie, dan vrye en bykans onbeperkte toegang daartoe sal hê. Die kwessie van bekostigbaarheid dien tans as ’n reguleerder vir die vraag na hierdie dienste. As die regulatoriese meganisme egter verwyder word, kan dit lei tot ’n beduidende tekort aan mediese personeel, spesifiek spesialiste wat vir jare lank opleiding ontvang. Meer pasiënte beteken dat die verhouding dokters tot pasiënte net verder sal daal. Daarbenewens dreig die gepaardgaande moontlikheid van ’n grootskaalse eksodus van vaardighede uit die land weens die implementering van NGV om die kwaliteit van gesondheidsorg ’n skielike dood te laat sterf.
Vir die medici wat wel in Suid-Afrika gaan aanbly, gaan die privaat sektor nie meer ’n toevlugsoord wees nie. Kenners in die bedryf voer aan dat as NGV geïmplementeer word, privaat mediesefondse en -fasiliteite uiteindelik tot niet gemaak gaan word.
Die voorgestelde regeringsbeheerde meganisme is daarop gemik om privaat gesondheidsorg aan uitgebreide regeringsbeheer te onderwerp, insluitend prysbepalings en die toewysing van die eksklusiewe mag aan NGV vir die aankoop van gesondheidsorgprodukte en -dienste – meganismes wat die land se privaat gesondheidsorgbedryf effektief sal nasionaliseer.
“Onder die voorgestelde NGV sal die vryheid om jou keuse van gesondheidsorg te kies, beperk word tot ’n politieke party met ’n geskiedenis van korrupsie en staatskaping van verskeie staatsondernemings,” sê Boshoff. “NGV sal ook medici dwing om die land te verlaat op soek na beter werksomstandighede, vry van burokratiese beperkings en betreurenswaardige werksomstandighede. Indien die implementering van NGV nie in sy spore gestuit word nie, sal die impak op Suid-Afrikaanse ekonomie en sy mense ongekend wees.”
- Lees hier oor die finansiële impak wat NGV op die middelklas sal hê.



