SAPD, polisie
|

Met hemelhoë misdaadsyfers laat kus se 10111-sentrums daagliks duisende in die steek

Deur Megan Swart

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se 10111-noodoproepsentrum in Maitland in die Wes-Kaap is een van die sentrums waar slagoffers van misdade die langste moet wag voordat ’n operateur hul noodoproep antwoord. Die Port Shepstone-sentrum in KwaZulu-Natal laat vaar boonop meer oproepe as wat hulle suksesvol beantwoord. Met ’n gemiddelde wagtyd van 26 sekondes in die Wes-Kaap en meer as 50% van noodoproepe wat in dele van KwaZulu-Natal onbeantwoord bly, is dit geen wonder nie dat dié twee provinsies ook jaarliks van die hoogste getal kontakmisdade in die land aanteken.

Firoz Cachalia, waarnemende minister van Polisie, het onlangs in ’n skriftelike parlementêre antwoord op ’n vraag van Ian Cameron, DA-LP en voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor Polisie, die 10111-noodoproepsentrums se statistiek vir die afgelope ses boekjare uiteengesit.

Hierin blyk dit dat daar bykans 50 miljoen noodoproepe landwyd deur die nege noodoproepsentrums in die afgelope ses jaar ontvang is. Van dié was bykans 13 miljoen oproepe onbeantwoord. In die 2025/2026-boekjaar alleen is daar byna 1,8 miljoene oproepe na hierdie noodnommer nie beantwoord nie.

Die Maitland-noodoproepsentrum het in die afgelope boekjaar byna 30% van al die noodoproepe wat hier ontvang is, laat vaar of nie beantwoord nie. Dit beteken dat uit die 377 121 noodoproepe wat deur die jaar hier laat vaar is, daar daagliks ’n gemiddeld van 1 033 gevalle was waar die publiek nie kontak met die operateurs in hierdie provinsie kon maak nie.

Hoewel die Maitland-noodoproepsentrum se koers waarteen oproepe nie beantwoord word nie of laat vaar word, veel hoër is as die nasionale gemiddeld van 19,98%, is dié sentrum nie die enigste een wat slagoffers in die steek laat nie. Port Shepstone in KwaZulu-Natal is die noodoproepsentrum waar die krisis ten opsigte van die aantal oproepe wat laat vaar is, die ergste woed.

Luidens statistiek is meer as die helfte (56,4%) van al die noodoproepe wat in die 2025/2026-boekjaar na dié sentrum gemaak is, laat vaar of onbeantwoord. Die afgelope boekjaar se powere prestasie bou boonop voort op die voorafgaande vyf jaar se swak vertoning.

Waar dié sentrum in die 2020/2021-boekjaar 13 009 oproepe onbeantwoord gelaat het, het hierdie syfer teen die 2025/2026-boekjaar met bykans 700% tot 103 976 gestyg. Dit beteken dat oor die sesjaarperiode meer oproepe by die Port Shepstone-sentrum laat vaar of onbeantwoord is as wat suksesvol beantwoord is.

Omvangryke krisis

Benewens al die oproepe wat onbeantwoord is, verdoesel die ernstige tekort in beskikbare statistiek vir die Maitland-sentrum ook die werklike omvang van die probleem. Dit laat ook talle vrae ontstaan oor deursigtigheid en aanspreeklikheid.

Cachalia het in sy parlementêre terugvoer gesê die polisie kon nie vir drie opeenvolgende boekjare, van 2022/2023 tot 2024/2025, Maitland se statistiek verskaf nie “weens ’n aangetekende CISCO-stelselfout”. Die waarnemende minister het boonop toegegee dat die groot getal oproepe wat as “laat vaar” of “onbeantwoord” aangeteken is, is omdat burgers die foon neersit “nadat hulle oormatig lank wag [vir hul oproepe om beantwoord te word] of dat oproepe heeltemal deur die stelsel laat vaar word”.

“Operateurs bestee ook ’n groot deel van hul beperkte tyd aan die hantering van vals oproepe en algemene navrae. Dit oorlaai die lyne en verhoed dat individue wat in lewensgevaarlike situasies verkeer, met beskikbare personeel in verbinding kan tree,” sê Cachalia.

Misdaad ruk handuit

Luidens die SAPD se misdaadstatistiek vir die 2025/2026-boekjaar is daar altesaam 114 205 kontakmisdade, wat moord, roof en aanranding insluit, in die Wes-Kaap aangeteken. Hoewel nie elke onbeantwoorde 10111-oproep noodwendig met ’n misdaad verband hou nie, wek hierdie syfers nietemin kommer oor die polisie se vermoë om inwoners in nood by te staan.

In Augustus 2026 het ’n getuie van ’n grusame aanval in Dunoon, Kaapstad, na bewering 10111 geskakel terwyl hy gesien het hoe mense aangerand en na ’n brand gedwing word. Ondanks die feit dat die getuie ’n beraamde ligging met behulp van GPS verskaf het, het hy na bewering gesukkel om hulp te kry omdat die operateur op ’n presiese ligging aangedring het. Die oproep is glo beëindig. Vier mans is daarna dood aangetref en hul liggame was verkool.

“In ’n provinsie waar kontakmisdade ’n ernstige bedreiging vir openbare veiligheid inhou, is dit kommerwekkend dat soveel pogings om noodoproepe te maak, onsuksesvol is. Wanneer sekondes die verskil tussen lewe en dood beteken, kan ’n noodoproep wat onbeantwoord bly, ernstige gevolge hê,” sê Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Net soos in die Wes-Kaap het KwaZulu-Natal ook uiterse hoë getalle van kontakmisdade. Volgens die polisie se jongste misdaadstatistieke kom die getal moorde, rooftogte en aanrandings in hierdie provinsie op 112 528 te staan.

“Die polisie se noodoproepstelsel kan nie konsekwent daarin slaag om mense wat hulp probeer ontbied met ’n operateur verbind nie. Die polisie se eie erkenning dat daar onvoldoende kapasiteit is en gereelde stelselfoute voorkom, tesame met die omvang van onbeantwoorde oproepe, verskaf genoeg gronde dat die bestuur van dié stelsel onder die vergrootglas geplaas word,” sluit Broodryk af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid