Lynden Jafta: Die entrepreneur agter Paarl 96.7 FM se sukses
Deur Ilze Nieuwoudt
Wanneer ’n goeie besigheidsidee en ’n droom in harmonie bymekaarkom is dit musiek in die ore. In die geval van Lynden Jafta, stigter en besturende direkteur van die gemeenskapsradiostasie Paarl 96.7 FM, is dit presies wat sedert dié stasie se stigting in 2018 gebeur het. Jafta se droom om ’n radiostasie op die been te bring wat die plaaslike gemeenskap, ondernemings én organisasies deur ’n volhoubare sakeonderneming verbind, het met Paarl 96.7 FM waarlik gestalte gekry en is vandag – ná bykans ’n dekade in die mediabedryf – nie net nog ’n radiostasie nie, maar (soos sy slagspreuk lui) #JouHarmonieVanKlanke.

En as dié sakeman se naam bekend op die oor val, is dit met rede, want nie net het hy vroeër vanjaar ’n draai gemaak op MasterChef SA nie, hy is ook ’n gereelde spreker by feeste en ander byeenkomste waar die kwessie van Afrikaans in die media onder die loep geneem word.
Jafta se sakevernuf en passie het hom boonop vanjaar ’n plek besorg as top 10-finalis in AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie. En dit is maklik om te sien hoekom hy ander entrepreneurs uitgestof het vir ’n plek op dié ranglys. Binne ’n snel veranderende en uiters mededingende bedryf bring Jafta deur Paarl 96.7 FM nie net nuus en musiek na sy luisteraars nie, maar ’n ervaring.
Vir Jafta lê die geheim in Paarl 96.7 FM se unieke aanslag. “Ons grootste onderskeid is ons verhouding met die gemeenskap. Ons is nie bloot ’n advertensieplatform nie, ons is deel van die gemeenskap waarbinne ons funksioneer,” verduidelik hy.

Dit is juis daarom dat die span by Paarl 96.7 FM strategies te werk gaan met hul keuse van musiek en inhoud. Dit strek egter veel verder as daardie ooglopende “produkte”. Jafta se keuse van aanbieders met ’n passie vir mense en ’n liefde vir Afrikaans wat net die regte vibe bring, is die geheime resep wat luisteraars keer op keer terugbring na hul stasie.
Wanneer die gesprek oor Paarl 96.7 FM se ontstaan ter sprake kom, is dit amper soos die raaisel oor die hoender en die eier – wat was dan eerste? Was dit Jafta besigheidsdroom of sy droom om ’n werklike verskil in die gemeenskap te maak?
In die geval Jafta se geesteskind is dit amper nie nodig om daardie eeueoue eier-en-hoender-raaisel te probeer uitpluis nie, want Paarl 96.7 FM slaag nie net as ’n suksesvolle besigheid – met ’n steeds groeiende voetspoor – nie, maar gee ook ’n stem aan die gemeenskap, terwyl dit deur middel van uiteenlopende projekte tot die ontwikkeling van die Paarl-gemeenskap bydra.
“Radio het die vermoë om mense se lewens te beïnvloed, gemeenskappe bymekaar te bring en geleenthede te skep waar dit andersins dalk nie sou bestaan nie,” benadruk Jafta. Boonop het sy fyn aanvoeling vir bemarking op die regte tyd ’n gaping vir ’n Afrikaanse bemarkingsplatform gesien wat nie net inkomste kan genereer nie, maar ook terugploeg in die gemeenskap.
Die pad na sukses is egter selde net maanskyn en rose, en verskeie struikelblokke het van Paarl 96.7 FM se pad ’n opdraande een gemaak. “Van die grootste struikelblokke was om die balans tussen ons gemeenskapsmandaat en finansiële volhoubaarheid te vind,” bieg Jafta. “Lugtyd was die produk, maar om die platform te bemark en ons kommoditeit – ons luisteraarsgetalle – te groei moes ek vir ’n tydjie maar gratis lugtyd gee.”
Sedertdien het dié stasie wel ingeburger geraak in die gemeenskap en slaag daaraan om met projekte soos #HounMeisieInSkool, die @GlimlagBoksieProjek, die #PyjamaGinParty en ander gemeenskapsinisiatiewe die gemeenskap deurlopend op ’n tasbare manier te bedien en die Paarl 96.7 FM-handelsmerk uit te bou.
Selfs die plaaslike munisipaliteit ondersteun die stasie. In ’n sosialemediaplasing vroeër die jaar word Paarl 96.7 FM bestempel as die “hartklop van Drakenstein” wat ’n “kragtige en outentieke stem vir ons gemeenskap” is.
Jafta se hart klop vir sy gemeenskap en as entrepreneur en sakeman werk sy kop aan die besigheid. Sy jare in die bedryf het hom al verskeie waardevolle lesse geleer, beklemtoon hy. “Ek het geleer dat slaap belangrik is, maar dat ’n mens rustiger slaap as jou besigheid finansieel volhoubaar is. Entrepreneurskap bring oomblikke van opgewondenheid, maar ook onsekerheid, teleurstelling en moeilike besluite – maar ek het geleer om aan te hou wanneer dinge nie volgens plan verloop nie en om verantwoordelikheid vir my besluite te aanvaar.”
Intussen werk Jafta en sy span by Paarl 96.7 FM aan die planne om hierdie gemeenskapsradiostasie se langtermynvisie uit te leef en ’n finansieel volhoubare, tegnologies gevorderde en gemeenskapsgerigte media-onderneming te vestig. “Ek wil hê Paarl FM moet ’n voorbeeld wees van hoe gemeenskapsmedia kommersieel kan groei sonder om sy sosiale verantwoordelikheid prys te gee,” benadruk hy. En die einddoel? “’n Onderneming wat lank ná my steeds ’n verskil kan maak.”
Dié droom klink – soos Paarl 96.7 FM self – behoorlik soos musiek vir die ore!



