Groot suksesse spruit uit AfriForum-massapatrollie
AfriForum se 177 buurt- en plaaswagte het Vrydagaand en Saterdagoggend (11 en 12 April) aan die eerste van 2025 se drie massapatrollies deelgeneem. Buurtwagte oor die hele land heen het in hul eie omgewing saam met ander veiligheidsrolspelers gepatrolleer om sigbaarheid te verhoog en veiligheid te verskerp.
Patrollies het reeds Vrydagmiddag begin en is Saterdag voortgesit tot die vroeë oggendure. Verskeie arrestasies is deur die loop van die patrollie in samewerking met wetstoepassers gemaak vir onder meer huisbraak, die besit van dwelms, aanranding, die besit van gesteelde goedere en die beskadiging van eiendom. Daar is ook bystand verleen by ongelukstonele. Voorts het buurtwaglede aan gesamentlike operasies van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) deelgeneem waartydens beslag gelê is op verskeie onwettige items en gevaarlike wapens.
Talle suksesse is tydens die massapatrollie in die Oos- en Wes-Kaap aangemeld. In Albertinia het die AfriForum-plaaswag saam met wetstoepassers gewerk om twee onwettige immigrante in hegtenis te neem, en op Onrus het die buurtwag gehelp om eiendom wat ná ’n rooftog by ’n gastehuis gesteel is, op te spoor. In Swellendam het die AfriForum-buurtwag saam met wetstoepassers aan ’n operasie deelgeneem waartydens 60 voertuie voorgekeer en deursoek is. Tydens dié operasie is R22 500 se boetes uitgereik. AfriForum se Port Elizabeth-tak se Broadwood-buurtwag het op hul beurt gehelp om ’n kaping te voorkom en die Walker Drive-buurtwag in dieselfde stad het bystand verleen aan ’n vrou wat gestrand was.

Sommige AfriForum-takke het ook die massapatrollie as ’n geleentheid gebruik om ander aksies aan te pak. So het die Colchester-tak in die Oos-Kaap ’n skoonmaakaksie by die Mackaybrug aangepak, terwyl daar in Centurion ’n reuseskoonmaakaksie in Lyttelton van stapel gestuur is en die Songloed-buurtwag in Klerksdorp slaggate herstel het.

“Ons gebruik die massapatrollie om hoë sigbaarheid te handhaaf om potensiële misdadigers af te skrik. Die patrollie gee ons buurt- en plaaswagte ook die geleentheid om gebeurlikheidsplanne in te oefen. AfriForum het ’n uitgebreide radionetwerk wat gedurende die patrollie ’n belangrike rol speel om oor die hele land kommunikasie moontlik te maak en op dieselfde tyd op die proef gestel kan word. Inoefening rat die organisasie se veiligheidstrukture dus op hierdie manier landwyd om, wanneer nodig, blitsig en doeltreffend te reageer in die belang van gemeenskappe se veiligheid,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.
“Die aktiewe betrokkenheid van ons vrywilligers in hierdie massa-inisiatief wys weereens hoe noodsaaklik georganiseerde gemeenskapsveiligheid is in ’n land waar misdaad handuit ruk. AfriForum is trots op elke patrolleerder wat hul tyd en vaardighede opoffer om hul gemeenskap te help beveilig. Dít is waar ware veiligheid begin – by die gemeenskap sélf,” sluit Broodryk af.
AfriForum moedig die publiek aan om by hul naaste AfriForum-buurtwagstruktuur aan te sluit. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting of om betrokke te raak.