|

‘Goed oorwin die kwaad’ bykans dekade ná Celeste Gouws se verkragting

Deur Megan Swart

“Ek het myself voorberei vir nóg ’n uitstel, maar toe my verkragter op dieselfde dag skuldig bevind en gevonnis is, kon ek dit bykans nie glo nie. Dit was soos ’n las van my skouers af – asof die goeie uiteindelik die kwaad oorwin het.”

Só sê Celeste Gouws, wat alle vertroue in die strafregstelsel verloor het nadat sy in 2017 by ’n Somerset-Oos-gastehuis verkrag is en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) versuim het om haar verkragter strafregtelik te vervolg. Ná byna nege jaar van veg en vyf jaar van uitgerekte hofverrigtinge het geregtigheid verlede week geskied toe AfriForum se privaatvervolgingseenheid toegesien het dat Isaac Andile Memese 20 jaar tronkstraf vir dié verkragting opgelê is.

“Dit het gevoel asof die proses, die polisie en die NVG in werklikheid die verkragting vir nege jaar voortgesit het deur my te laat voel asof ek dit verdien het,” sê sy.

Toe die NVG destyds besluit het om nie die saak te vervolg nie, het ’n aanklaer opgemerk dat Memese ’n geleentheid gesien het – ’n vrou wat onder die invloed van alkohol is – en dit aangegryp het.

“As ek nie die hulp van AfriForum se privaatvervolgingseenheid gehad het nie, sou my verkragter daarmee weggekom het. Ongeag hoe uitmergelend die proses geraak het, het die eenheid my altyd verseker dat dié misdryf nie my skuld was nie én dat geregtigheid sou geskied,” sê Gouws.

Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die huidige strafregstelsel is geensins ’n toevlugsoord vir slagoffers van seksuele geweld nie, maar veroorsaak eerder sekondêre trauma onder slagoffers. Gouws het haarself op verskeie geleenthede afgevra waarom sy die verkragting in die eerste plek aangemeld het.

“Geen wetsgehoorsame vrou behoort nege jaar van haar lewe af te staan om ’n misdadiger vas te keer nie. Sowel die polisie as die NVG het Celeste gefaal,” sê Bateman.

Die saak is ná ’n lang uitstel vir 4 Maart op die hofrol geplaas vir uitspraak. Memese se nuwe regspan het egter ’n aansoek gebring om die saak van voor af te laat aanhoor. Dit sou beteken het dat al die getuies, insluitend Gouws, vir ’n tweede keer kruisondervra word. Landdros Eric Mbiyo het egter die aansoek van die hand gewys, uitspraak gelewer en Memese gevonnis.

“Daar is geen manier wat ek hierdie uitputtende en traumatiese reis sonder die hulp van my vriende en AfriForum kon voltooi nie. Ek sou nie vandag hier gewees het as dit nie vir elkeen van hulle was nie,” sluit Gouws af.

Klik hier vir meer inligting oor die skuldigbevinding.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik