|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het hierdie week aangekondig dat ’n geïntegreerde plan nodig is om ’n waterkrisis in die land te voorkom. Die burgerregteorganisasie se takke het ook die afgelope week verskeie volhoubare projekte aangepak om ’n verskil in hul omgewing te maak.

AfriForum het kennis geneem van Pemmy Majodina, minister van Water en Sanitasie, se verduideliking oor die verantwoordelikhede van plaaslike munisipaliteite in die verskaffing van waterdienste. Die burgerregteorganisasie glo egter vas dat die Departement van Water en Sanitasie (DWS) nie net alle verantwoordelikhede in dié verband op munisipaliteite kan afskuif nie. Die DWS is die bewaarder van water in die land en ’n geïntegreerde plan wat alle rolspelers insluitend die gemeenskap betrek, moet ingestel word om ’n waterkrisis te vermy.

Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum

Daar is verskeie tekens dat Suid-Afrika wel al nader aan ’n waterkrisis beweeg. Kleiner dorpe gaan gereeld gebuk onder wateronderbrekings of gevalle van waterbesoedeling (soos die storting van rou riool in riviere).

AfriForum het reeds in 2019 begin om noodwaterpunte op te rig om watertekorte die hoof te bied. Hierdie punte bring daadwerklike verligting aan geaffekteerde gemeenskappe. Die AfriForum-noodwaterpunt op Bethal het byvoorbeeld vanjaar al meer as 1 miljoen liter water aan inwoners van dié dorp verskaf. In Limpopo het die noodwaterpunt wat AfriForum se Naboomspruit-tak opgerig het, ook tydens die onlangse wateronderbrekings hier meer as 15 000 liter aan gemeenskapslede verskaf.

Die gemeenskap maak waterbottels by AfriForum se noodwaterpunt in Bethal vol

AfriForum se teenboeliespan het die afgelope week inligtingsessies aangebied by Laerskool Krugerpark in Mokopane (Potgietersrus) en Laerskool Kenmare in Krugersdorp. Bewusmaking van boeliegedrag en hoe leerlinge, onderwysers en ouers kan help om hierdie gedrag hok te slaan, vorm die kern van die inligtingsessies.

Die Port Elizabeth-tak se jeug het opknappings by Laerskool Swartkops aangepak. Daar is onder meer gras gesny, vullis verwyder en geverf. Die jeugtak het ook netbal- en sokkerballe aan die skool geskenk.

AfriForum se Zeerust-tak het verdere opknappings by die Burgermonument gedoen. Hierdie keer is bome op die terrein gesnoei en indringerplante verwyder. Twee vragte tuinrommel is ook weggery.

In eMalahleni (Witbank) het die plaaslike AfriForum-tak oor die afgelope maand verskeie projekte aangepak. Daar is onder meer sonkragligte by die Moth Sound Memory Cottages opgerig en flitse is aan die Duvha Park-buurtwag geskenk.

Die grondpad voor die Huis Frank du Toit-tehuis op Prieska is ook uiteindelik herstel. Dit volg ná AfriForum volgehoue druk op die Siyathemba Plaaslike Munisipaliteit uitgeoefen het. Die betrokke pad was vir ’n groot deel van die jaar ’n kopseer vir die inwoners van die gebied. Die verslegtende toestand van die pad het nie net motoriste se veiligheid in gedrang geplaas nie, maar ook ambulanse se toeganklikheid tot die gebied belemmer.

Die grondpad voor die Huis Frank du Toit-tehuis op Prieska

Soortgelyke plasings