Entrepreneur van die Jaar: Hier is jou top 5-finaliste
Deur Ilze Nieuwoudt
Daar is entrepreneurs met unieke idees … en dan is daar dié met uitsonderlike idees, meesterlike sakevernuf en daardie geheime “iets” wat kopers en kliënte se ore laat spits, laat vra na meer en behoorlik laat uitroep: “Dit is net wat ek kort!” In hierdie tweede kategorie entrepreneurs val vanjaar se top 5-finaliste van AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie wat vandeesweek aangekondig is.
Hier is dié vyf finaliste wat op 10 en 11 November sake gaan uitspook tydens hul finale onderhoude voor die beoordelaars.
Annerie Potgieter van Purpose & Proverbs
Wie en wat is Purpose & Proverbs?
“’n Vriendin van my het ons besigheid een keer beskryf as “TYPO vir Jesus”, en ek dink dit som ons nogal goed op! Ons maak en verkoop alles van Bybelindekse en joernale tot muurprints, stickers en skryfbehoeftes. Basies alles wat mooi én prakties is, maar met Jesus in die middel van dit alles. Ons hart is om mense te help om meer tyd saam met God te spandeer,” verduidelik Potgieter.
Ontmoet Annerie Potgieter van Purpose & Proverbs hier!
Ghia Nadel Liebrecht van sak.sak
Wie en wat is sak.sak?
Liebrecht maak dit duidelik: “Ons maak sakke wat nie net mooi lyk nie, maar ook prakties is en wat jy elke dag kan gebruik. Ons probeer dit bekostigbaar hou sonder om op kwaliteit in te boet. En natuurlik is ons baie trots daarop dat ons ’n Suid-Afrikaanse handelsmerk is!”
Ontmoet Ghia Nadel Liebrecht van sak.sak hier!
Hanroe Erasmus van Genade Shoppie
Wie en wat is Genade Shoppie?
Genade Shoppie is ’n voedselonderneming wat tuisgemaakte etes, varsgebak en uitgesoekte plaas- en deliprodukte verkoop. Dit is egter nie net nog ’n onderneming nie. Vir Erasmus is die hart van Genade Shoppie eenvoudig: “Ons maak kos wat mense aan hulle oumas se kombuise laat dink, met die sorg en standaarde wat ek uit my loopbaan as sjef saambring. Ons wil hê iemand moet met goeie kos huis toe gaan en voel dat hulle welkom was. Dit is ’n shoppie wat met liefde en deursettingsvermoë gebou is, en ek glo mense kan dit aanvoel.”
Ontmoet Hanroe Erasmus van Genade Shoppie hier!
Jean-Pierre Voogt van Kampi.co.za
Wie en wat is Kampi.co.za?
“Kampi is ’n plek waar gewone mense hul karavaan of kampwa verhuur aan ander gewone mense wat wil gaan kamp. Die eienaar verdien ’n ekstra geldjie met iets wat andersins net staan. Die gesin wat huur kry ’n kampvakansie sonder om ’n karavaan te koop, te sleep en te stoor. As ek dit in een sin moet sê, gebruik ek die sin waarmee ons elke nuwe spanlid oplei: Ons verhuur nie karavane nie, ons help mense om te gaan kamp. Dit klink dalk ’n bietjie soetsappig. Dit is ook waar, en meer as 6 000 besprekings later werk dit steeds,” verduidelik Voogt.
Ontmoet Jean-Pierre Voogt van Kampi.co.za hier!
Mario Labuschagne van MyHelper
Wie en wat is MyHelper?
MyHelper ’n eerste in sy soort, verduidelik Labuschagne. “Dit is die eerste betaalstaatstelsel wat spesifiek vir werkgewers van huishulpe gebou is. Dit neem ’n huishouding wat nog nie aan die arbeidswetgewing voldoen nie, en help dit om binne dae ’n nakomende werkgewer te word – geregistreer vir UIF en die vergoedingsfonds, met maandelikse verklarings, wettige salarisstrokies, verlofrekords en ’n dienskontrak. Die werkgewer hoef nie self die Wet op Basiese Diensvoorwaardes te verstaan nie; ons hanteer dit namens hulle teen ’n vaste maandelikse tarief.”
Ontmoet Mario Labuschagne van MyHelper hier!



