Buurtspan hou Chrissiesmeer skoon met suksesvolle vullisdromprojek
’n Skoon dorp begin by elke persoon se besluit om nie ’n morsjors te wees nie en hul vullis in ’n asblik eerder as op die grond te gooi. Dan verg dit ’n toegewyde span om seker te maak dat hierdie vullisdromme gereeld skoongemaak word sodat dít nie uiteindelik ’n klein vullisterreintjie word nie. Dít is die geval in Chrissiesmeer, Mpumalanga, waar AfriForum se buurtspan hard werk om te sorg dat dié dorp prentjiemooi bly.

Dié buurtspan bestaan uit slegs twee lede, pa en seun Abel en Reuben van den Heever. Saam pak hulle van die dorp se uitdagings by die horings.
Die buurtspan se grootste projek tans is hul vullisdromprojek waar 16 vullisdromme op strategiese punte in die dorp staangemaak is ten einde mense aan te moedig om nie hul vullis in die dorp te stort nie.






Volgens Hennie Bekker, AfriForum se streekshoof vir Limpopo en Mpumalanga, is die netheid van die dorp veral belangrik aangesien dié dorp se ekonomie grootliks staatmaak op toerisme. “Ons het daarom besluit om self ’n verskil te maak en hierdie groen vullisdromme in die dorp op te rig.”
Sedert Januarie vanjaar het dié buurtspan reeds 897 groot swartsakke vol vullis uit hierdie dromme verwyder.
Die buurtspan hou hulself egter nie net besig met die vullisdromprojek nie. Hierdie span sny gras en tel ook self vullis in en om die dorp op. Tussen Januarie en September vanjaar het hierdie spannetjie reeds nagenoeg 46 ha gras in die dorp gesny en 43 sakke vol vullis – sowat 1 ton – opgetel.
Volgens Millicent van den Heever, voorsitter van AfriForum se Chrissiesmeer-tak, was die agteruitgang in die dorp as gevolg van die Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit se versuim om basiese dienste te lewer. “Ons het ’n behoefte in die dorp geïdentifiseer en besluit om iets daaraan te doen. Ons buurtspan sny gras in die hoofstraat en sorg dat ons groen asblikke skoon en netjies is. Hierdie klein goedjies het reeds ’n reuseverskil gemaak en ons het binne ’n paar maande positiewe terugvoer vanaf inwoners en besigheidseienaars in die dorp ontvang.”
Wil jy help om ’n verskil in jou omgewing te maak? Bespreek vandag nog ’n buurtspan hier.







