Boeredag by Talana Museum (1 Maart 2025): Gemeenskapsbetrokkenheid is ’n wenplan
In 2024 het AfriForum ’n artikel oor Talana Museum in Dundee geplaas. Dit het vertel van die groot verskeidenheid projekte wat daar aangepak word, uitstallings wat te sien is en aktiwiteite vir besoekers.
Vir instandhouding en herstelwerk is die museum uitsluitlik afhanklik van inkomste wat verkry word uit funksies wat daar aangebied word. Fondse is ook nodig vir die bestuur van die argiewe, wat ’n kosbare versameling dokumente bevat. Dit het betrekking op die families wat hulle in die omgewing gevestig het, asook die boerdery, militêre geskiedenis, steenkoolmynbou en ander erfenistemas van die gebied.
Donasies is natuurlik nog ’n belangrike bron van inkomste om die groot taak te verrig en AfriForum het dus ’n donasie aan die museum bewillig vir die bewaring en publikasie van dagboeke waaroor die museum beskik. Hierdie dokumente gee ’n eerstehandse blik op die mense van die omgewing se destydse ervarings.
Van groot nasionale besighede, tot kleiner sake en selfs eenmanbesighede sal deelneem.
Vanjaar se eerste groot fondsinsamelingsgeleentheid by die museum vind DV op Saterdag 1 Maart 2025 plaas. Dit sal ’n boeredag wees, met die museum wat sy versameling van implemente en gereedskap wat oor die afgelope veertig jaar deur boere daaraan geskenk is, saam met moderne trekkers en implemente ten toon sal stel. Al sewe landbou-organisasies van die omgewing het hulle steun aan die projek toegesê. Besighede wat die breër landbousektor bedien, is ook uitgenooi om met die fondsinsameling te help deur hul produkte daar te vertoon. Van groot nasionale besighede, tot kleiner sake en selfs eenmanbesighede sal deelneem. Van die interessante uitstallers is mense wat gewasbespuiting met hommeltuie doen, mense wat damwalle of baggerdamme herstel en verteenwoordigers van saadmaatskappye en plaaslike plaasveiligheidstelsels. Plaasdiere, pluimvee en selfs posduiwe sal te siene wees in krale wat deur AAM Livestock Agents and Auctioneers geborg word.
Die museum gaan twaalf van die waens in sy versameling gebruik vir ’n parade deur die terrein, terwyl kommentaar gelewer word oor die geskiedenis van elke wa, asook waar en hoe die museum dit bekom het. Mense in periodedrag sal die waens vergesel om te illustreer deur wie en hoe die waens gebruik is. Farmtrac, Case en plaaslike boere gaan trekkers voorsien om die erfeniswaens te trek.

Die museum se teetuin sal in ’n tydelik restaurant omskep word vir ’n aandete onder die sterre. Gemeenskapsorganisasies soos die Rotariërs en die Eventide Bejaardesorgsentrum sal die geleentheid kry om met verkope fondse vir hulle gemeenskapsprojekte in te samel. ’n Plaaslike kleuterskool sal vermaak vir kinders verskaf en sodoende ook fondse insamel. Hulle het toestemming gekry om ’n permanente oerwoudgimnasium naby die restaurant op te rig sodat ouers ’n ogie oor die kleingoed kan hou terwyl hulle oor ’n koppie koffie of tee kuier.
Die plaaslike jukskeiklub gaan twee bane vir die dag bou, maar het toestemming gevra om meer te bou sodat die museum uiteindelik deel van die jaarlikse jukskei-kompetisieterreine in Noord-Natal kan word.
’n Besondere deel van die dag se program sal die bekendstelling van die publikasie van een van die dagboeke wat die museum bewaar, wees.
AfriForum het ’n bydrae aan die museum geskenk vir sodanige bewaring en publikasieprojekte en hierdie is die gevolg daarvan. Dit is die dagboek van Nita Meyer. Sy en haar man, Izak, het by Twyfelfontein naby Laffnie’s Drift aan die Buffelsrivier geboer. Haar oorspronklike dagboek beslaan honderde bladsye wat by Talana Museum gehou word. Izak was ’n burgemeester van die Utrecht Republiek en ’n broer van president Lukas Meyer van die Nieuwe Republiek op Vryheid. Nita was die dogter van dokter Aveling van Harrysmith.
Volgens Pamela McFadden, voorsitter van die Talana Museum Trust, was dit ’n besonder interessante projek. Vriende van die Museum het hard gewerk om die oorspronklike Nederlandse teks in beide Afrikaans en Engels te vertaal. Pamela het die teks dae lank saam met drie ander medewerkers geproeflees en gepaste foto’s uit die museum se argiefversameling gekies om die dagboek te illustreer.
Algaande het die projek bekend geraak, met die gevolg dat lede van die publiek nog dagboeke aan die museum geskenk het. Afstammelinge van die mense wat dit oorspronklik geskryf het, het ook meer foto’s voorsien. Dit het ’n wonderlike geleentheid geskep om belangstelling in die omgewing, die geskiedenis daarvan en die mense wat daar gewoon het, aan te wakker. Dit was interessant om te sien dat soveel van die genoemde families se afstammelinge steeds in die omgewing bly en sommige nog op hul familieplase woon.
Die Talana Museum Trust het boere gekontak om ou grafte en begraafplase op hul plase te vind. Dit het ook hul belangstelling in die geskiedenis opgewek. Pamela vertel dat sy selfs ’n boer moes vra om bo-op ’n hoë heuwel te klim om na ’n begraafplaas te gaan kyk, waarna hy drie dae lank indringerplante moes snoei en uitskoffel om by die begraafplaas uit te kom en foto’s van die grafstene vir die dagboek te neem.
Die projek het nuwe lede vir Vriende van die Museum en vrywilligers wat betrokke wil raak, gewerf. Die boereverenigings het ook fondse geskenk sodat al die plaasimplemente geverf en die waens gerestoureer kon word. Boere help die museum verder om gras te sny. Hulle baal dan die gras en verkoop dit om die koste van arbeid en diesel te dek.
Die museum en hierdie projekte is die ideale voorbeeld van gemeenskapskrag. Nie alleen het die museum en trust se planne belangstelling geskep nie, maar verskeie belangegroepe soos AfriForum het betrokke geraak. Verskeie gaan hopelik langertermyn-verbintenisse bou. Daar word voorsien dat die boeredag ’n jaarlikse geleentheid by die museum sal word. Pamela gee erkenning aan AfriForum se rol in die proses, maar die feit is dat elke persoon of instelling wat deelneem, eintlik ’n belegging in ons toekoms maak deur ons erfenis onder die vlerk te neem.
Navrae oor die museum of boeredag kan gerig word aan Pamela McFadden by pammcfadden1@gmail.com.