Skool, onderrig

Antwoorde op AfriForum se PAIA-eis oor Mpumalanga Onderwys se duur rekenaars afgewag

AfriForum het op 18 Februarie 2025 ’n formele versoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (ook bekend as PAIA) aan die Onderwysdepartement van Mpumalanga gerig om meer inligting oor die aankoop van 22 skootrekenaars in Desember 2024 te bekom.

Dit het gevolg nadat ’n anonieme bron inligting aan AfriForum voorsien het wat aandui dat die rekenaars skynbaar teen ’n koste ver bo die algemene markprys van soortgelyke rekenaars aangekoop is. Die aankope het ook gister (16 April) in die vraag-en-antwoord sessie van Mpumalanga se provinsiale wetgewer tot skok en indringende vrae gelei.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het die departement tot nou toe uitstel gevra omdat van die inligting wat AfriForum aangevra het, individue raak en die departement versigtig is om nie wetgewing oor die beskerming van privaat inligting te oortree nie. AfriForum wil onder meer weet hoe op die spesifikasies vir die modelle en programmatuur waarop besluit is, ooreengekom is; besonderhede van die tenderproses wat gevolg is; die name van verskaffers wat tenders vir die aankope ingedien het; die finale bedrag waarteen die skootrekenaars aangekoop is; enige dokumente wat die prysstruktuur uiteensit; met watter doel dit deur die departement aangewend sal word; asook ’n uiteensetting van die begrotingstoewysing vir die aankoop daarvan.

Intussen het dieselfde anonieme bron ook ’n skrywe gedateer 3 Maart 2025 aan AfriForum gestuur waarin gesê is dat Lucy Moyane, die provinsiale onderwysdepartementshoof opdrag gee dat alle data van die rekenaars gevee moet word sodat dit aan die verskaffer terugbesorg kan word omdat dit “nie aan die verskaffingsvereistes van die departement voldoen nie”.

Bailey meen dat dit kommerwekkend baie na ’n skadebeheer of selfs ’n toesmeerpoging lyk in reaksie op die PAIA-aansoek. “Ons sien uit na die antwoorde op ons vrae en wil aansluitend uitvind of die rekenaars wel aan die verskaffer terugbesorg is en die bedrag waarvoor dit aangekoop is, aan die departement terugbetaal is,” sê sy.

Sy beklemtoon dat enige moontlike wanaanwending van fondse deur onderwysowerhede op provinsiale of nasionale vlak nie alleen onaanvaarbaar is en vasgevat moet word nie, maar ’n wrang smaak in die mond laat as ’n mens in ag neem met hoeveel uitdagings skole en leerders as gevolg van begrotingstekorte te kampe het. “Dit kan daarom nie geduld word nie en AfriForum eis ook optrede teen enige amptenaar wat vir wanspandering verantwoordelik is.”

Soortgelyke plasings