|

Toerbroers betree bedryf ná eerste toer binne 20 minute uitverkoop

Deur Megan Swart

Andries Hendrik Potgieter en sy broer Wiaan Fourie is avontuurlustig van nature en die behoefte om die wêreld te verken, nuwe kulture te ervaar en die natuurskoon te bewonder, het by die jaar gegroei. Andries, wat vanjaar een van die tien semifinaliste van AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar was, sê hulle het besluit om hul passie vir mense, diere en reis te kombineer om die reisagentskap Toerbroers op die been te bring – min wetend dat dit op soveel meer gaan uitloop as net ’n platform wat Afrikaners die geleentheid gee om saam die wêreld te sien.

Toerbroers is in 2019 amptelik tot stand gebring nadat dié broers se jaarlikse vakansies na Thailand soveel honderde navrae na dieselfde soort vakansie ontlok het, dat Flight Centre hulle genader het om ’n toerpakket saam te stel.

“Ons het ons eerste toer Phuket toe saamgestel en sowat 20 plekke beskikbaar gemaak. Dit is binne 20 minute uitverkoop en net daar is die saadjie vir Toerbroers geplant. Ons het daarna verskillende plaaslike en internasionale toere saamgestel en stukkie vir stukkie aan ons toerportfolio begin bou as die twee broers wat toer – dus, Toerbroers,” sê Andries.

Terwyl Andries en Wiaan alles in die stryd gewerp het om hul toere van die beste gehalte en waarde vir geld te maak, het die Covid-19-pandemie getref en die toerismebedryf op sy knieë gedwing. Dié wêreldwye pandemie het egter die broers geleer hoe om te swem in plaas daarvan om te sink.

“Ons toere vir 2020 was vol bespreek toe die pandemie uitgebreek het, maar ons het lojale gaste gehad wat net hul datums uitgeskuif het. Toe ons weer kon toer het ons seker gemaak ons het met plaaslike en internasionale verskaffers vir die beste pryse onderhandel. Vir internasionale toere het ons boonop ’n vennootskap met Lancet aangegaan waar ons gaste PCR-toetse teen ’n laer prys kon doen,” sê Andries.

“Terwyl ander ondernemings swaar deur die pandemie getref is, het ons driedubbel gegroei. Ons gaste het ons met goeie pryse, betroubare diens en ongelooflike toere begin assosieer.”

Vandag is Toerbroers een van die grootste Afrikaanse reisagentskappe ter wêreld. Toerbroers bied tans meer as 100 toere per jaar aan wat internasionale besienswaardighede soos dié in Alaska, Lapland, die gorillas in Rwanda en Serengeti insluit. Die agentskap bedien boonop meer as 42 000 gaste per jaar – en dit alles in Afrikaans.

Toerbroers spog ook met ’n program wat jongmense in Afrikaans in die toerismesektor oplei. Geakkrediteerde opleiding word in Toerisme, Wildsplaasbestuur, Dieregesondheid en Natuurkunde aangebied. Toerbroers se akkreditasie met CATHSSETA, AgriSETA, QCTO en SAQA beteken dat studente ook internasionaal erken word. Die agentskap help dus om die plasing van al sy studente by meer as 300 verskaffers wêreldwyd te fasiliteer.

“Ons werk ook tans aan ons derde seisoen van die KykNET TV-reeks ‘Toerbroers Jou Toekoms’ vir 2027,” sê Andries. “Die realiteitsreeks gee ’n blik op lewe agter die skerms van ons toerismekampus, die opleiding wat die studente ontvang en hoe ons werksgeleenthede vir hierdie jongmense skep.”

Toerbroers het ook met sy unieke finansieringsopsie hom ver bo sy mededingers laat uitstaan. Toerbroers Finansies is al vir vier jaar lank ’n NKB-kredietverskaffer wat rentevrye, lae rente en afbetaalopsies aan gaste en studente bied om hulle weer die geleentheid te gee om te reis of te studeer.

Verder het Toerbroers se natuurbewaringsprojekte oor die laaste vier jaar nagenoeg R3 miljoen vir die bewaring van renosters, jagluiperde, leeus en olifante bewillig.

“In ’n baie kort tyd het Toerbroers sy merk op die industrie gemaak,” sê Andries.

“Met die toere het ons ’n groter verskeidenheid van toere daargestel en steeds probeer om dit so bekostigbaar as moontlik te hou. Toerbroers Finansies gee ook ons gaste die geleentheid om hulle toere maandeliks deur middel van finansiering af te betaal wat ’n baie goeie skuif was. Ons opleidingskampus het baie vinnig tot stand gekom, maar om dit met die KykNET-televisiereeks te kombineer het vir ongelooflike bemarking gesorg wat beteken dat ons klasse vir 2027 reeds uitverkoop is.”

Andries sê hy en Wiaan moet mekaar gereeld herinner dat Toerbroers steeds ’n familiebesigheid is, wat poog om vir sy gaste en studente ’n tuiste te skep waarna hulle gereeld kan gaan om te reis en te studeer.

“Toerbroers het reeds vertroue gewen in terme van opvoeding, reis, natuurbewaring en meer. My droom is om die onderneming nog verder te ontwikkel sodat dit kan voortgaan om die Afrikaanse kultuur uit te bou en as dryfveer vir werkskepping in die sektor te dien,” sluit Andries af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners