| |

Afrikaans 100 – Taalheld 6 – Elisabeth Eybers, baanbreker Afrikaanse digter

Van ons skooljare af, is die meeste van ons vertroud met gedigte van Elisabeth Eybers. Sy was ’n baanbreker Afrikaanse digter wat nie net die eerste vrou was aan wie die Hertzogprys vir poësie toegeken is nie, maar ook die eerste vrou wat ’n digbundel in Afrikaans gepubliseer het. Sy was verder die enigste vroulike lid van “die Dertigers”, ’n groep Afrikaanse digters wat in die 1930’s nuwe letterkundige hoogtes met hulle werk in die jong taal, Afrikaans, bereik het.

Elisabeth se unieke rol in dié groep was dat sy die eerste persoon was wat die ervaringswêreld van vroue in Afrikaans begin vaslê het. Dink maar aan haar gedig wat waarskynlik die bekendste is, naamlik Maria. Op ’n heel ander aangrypende en persoonlik manier het sy oor die geboorte van Jesus en sy moeder se verhouding met hom geskryf. Dit is merkwaardig dat sy die gedig geskryf het toe sy maar net agttien jaar oud was!

Elisabeth Françoise Eybers is op 26 Februarie 1915 op Klerksdorp gebore. Haar pa was ’n NG predikant en haar ma ’n begaafde vrou wat op 26-jarige ouderdom op aanbeveling van pres. M.T. Steyn as eerste hoof van die Meisieskool Oranje in Bloemfontein aangestel is.

Haar vader is na Schweizer-Reneke beroep toe sy omtrent ’n jaar oud was. Hy was een van die eerste predikante wat in Afrikaans in plaas van in Nederlands gepreek het. Destyds was dit ’n dapper stap, omdat konserwatiewe gemeentelede steeds Nederlands verkies het. Sy het dus vroeg reeds van taal bewus geraak.

Vir Elisabeth was haar kinderdae die gelukkigste tyd van haar lewe. Volgens haar was sy ’n tingerige, soms sieklike en senuweeagtige kind wat altyd met haar neus in ’n boek was en baie tyd aan dagdromery gewy het. Skoolgaan was ’n uitdaging omdat die meeste van haar klasmaats ouer as sy was. Hoewel sy met haar skoolwerk op hulle vlak was, het sy blykbaar emosioneel nie altyd ingepas nie.

Skynbaar het sy toevallig haar liefde en aanleg vir poësie ontdek toe haar Engels onderwyser leerders as straf gedigte laat skryf het.

Sy het op sestienjarige leeftyd gematrikuleer en in 1932 met haar studies aan die Universiteit van die Witwatersrand begin. Die aanpassing alleen in die vreemde stad was groot en sy het gedigte geskryf om haar verlange huis toe te stil. In 1934 het sy ’n BA-graad met Duits en Afrikaans as hoofvakke behaal en in 1935 ’n BA (Honneurs)-graad met lof in Afrikaans. Na haar studies het sy soos verskeie ander invloedryke Afrikaanse vroue van dié tyd ’n loopbaan in die koerant- en tydskrifwese gevolg en was onder meer ’n tyd lank verbonde aan die redaksies van Die moderne vrou en Die Brandwag.

Van 1935 af het sy begin om gereeld gedigte in verskeie tydskrifte en koerante te publiseer. In 1936 het haar eerste digbundel, Belydenis in die skemering, verskyn en in 1943 is die Hertzogprys vir poësie daarvoor en vir die bundel Die stil avontuur aan haar toegeken. Dit was een van vele eerbewyse wat sy deur haar lewe uit erkenning vir haar digwerk ontvang het. Eredoktorate is deur die Universiteit van die Witwatersrand, die Randse Afrikaanse Universiteit, die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van Stellenbosch aan haar toegeken.

Elisabeth Françoise Eybers is op 26 Februarie 1915 op Klerksdorp gebore.

Elisabeth het haar lewe lank aanhou skryf en dig. Sy het ook ander digters se gedigte uit verskeie tale in Afrikaans vertaal. In 1961 het sy die Akademieprys vir Vertaalde Werk vir haar vertaling van Jules Superveille se Die os en die esel van die krip ontvang. Verder het sy resensies, letterkundige opstelle, sketse en verhale geskryf.

Soos wat uit haar gedigte afgelei kan word, het haar persoonlike lewe nie net uit vreugde en voorspoed bestaan nie. In Desember 1937 is sy met die latere bekende sakeman, Albert Jan Jurie Wessels getroud en uit hulle huwelik is drie dogters en ’n seun gebore. Ongelukkig is hulle in 1961 geskei, waarna sy haar in Amsterdam (Nederland) gevestig het. Aanvanklik sou sy en haar jongste dogter net ’n jaar lank daar gaan woon, maar uiteindelik het dit vir die res van haar lewe haar tuiste geword. Sy het egter altyd haar belangstelling in haar geboorteland behou. Sy het op ’n keer gesê: “Ek is en bly ’n produk van Suid-Afrika. In die beoefening van my ambag is die Afrikaanse taal my kosbare instrument.”

Sy is onder meer in ’n stadium die “belangrikste lewende Nederlandse digteres” genoem en het in 1991 die vernaamste Nederlandse letterkundige toekenning, naamlik die PC Hooft-prys, vir haar Versamelde gedigte ontvang. By die geleentheid het sy verklaar: “Natuurlik gee so ’n eer, so ’n beloning voldoening. Maar dit laat ’n mens ook effens verleë en ongemaklik voel. Jy het niks anders gedoen as om ’n innerlike opdrag uit te voer nie. Poësie is nie iets wat ’n mens onderneem nie, dit is iets wat met jou gebeur.”

Oor die toekoms van Afrikaans is sy in 1991 só deur Beeld aangehaal: “Afrikaans is my gemoedstaal wat ek aan die Engelstalige Universiteit van die Witwatersrand as my natuurlike medium ontdek het. Ek kan my nie voorstel dat Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika sal verdwyn nie en hoop dat binne ’n regverdige bedeling, een groep nie oor ’n ander sal heers nie en die Westerse beskawing behoue sal bly.”

Hierdie merkwaardige vrou is op Saterdag 1 Desember 2007 in haar woonstel in Amsterdam oorlede en sy is in die Zorgvlied-begraafplaas aldaar begrawe.

Soortgelyke plasings