|

AfriForum-verslag toon land se vullisterreine is steeds ’n vrot spul

Luidens AfriForum se 2025-vullisterreinouditverslag wat vandag bekendgestel is, is die land se vullisterreine steeds ’n vrot spul. Net omtrent 1 uit elke 5 van die 169 terreine wat geoudit is, het aan die minimum vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen.

Gauteng (56%) en die Wes-Kaap (51%) is die enigste provinsies waar meer as die helfte van terreine wat geoudit is aan die minimum vereistes voldoen het. Die vullisterreine in die Noord-Kaap, Noordwes, die Vrystaat, Mpumalanga en Limpopo is steeds in ’n haglike toestand. In die Vrystaat het net 1 uit die 22 vullisterreine wat geoudit is, aan die minimum vereistes voldoen.

As deel van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit stel AfriForum se verteenwoordigers ondersoek in na verskeie kwessies soos om te bepaal of die weegbrug werk, toegangsbeheer toegepas word, paaie begaanbaar is, masjinerie werk en inligting oor die stortingsterrein duidelik sigbaar is. ’n Terrein kry ’n slaagpunt mits dit ’n punt van 80% of meer vir die oudit behaal.

Die stukkende weegbrug in Hartswater

Gauteng se vullisterreine het in 2025 die hoogste gemiddelde nakomingspunt van 84% gekry. Die Noord-Kaap se gemiddelde nakomingspunt was net 13%, terwyl die Vrystaat wat effens beter gevaar het met 18%.

Gemeet aan die provinsiale nakomingspunt het Gauteng sedert 2023 verbetering getoon. In 2023 kon dié provinsie ’n nakomingspunt van slegs 63% kry, maar het in 2024 tot 78% en vanjaar tot 84% verbeter. In dié provinsie het 5 van die 9 terreine wat vanjaar geoudit is (oftewel 56% van terreine) aan die minimum vereistes voldoen, terwyl slegs 3 uit die 11 terreine wat in 2023 in Gauteng geoudit is (oftewel 27% van terreine) die paal kon haal. Ten spyte van die verbetering wat vanjaar in Gauteng aangemeld is, het die provinsie steeds swakker presteer as in 2021 en 2022 toe onderskeidelik 60% en 65% van terreine in die provinsie die oudit kon slaag.

In die Noord-Kaap, waar dit die afgelope paar jaar beroerd gegaan het met vullisterreine, is daar vir die eerste keer in drie jaar ’n terrein wat aan die minimum vereistes van die oudit voldoen het. Hoewel die gemiddelde nakomingspunt in dié provinsie die afgelope twee jaar op 13% vasgesteek het, is dit ’n ernstige daling vanaf 2021 toe ’n gemiddelde nakomingspunt van 24% aangeteken is.

In al die ander provinsies het die gemiddelde nakomingspunt verbeter met Mpumalanga, die Oos-Kaap en Noordwes wat die hoogste nakomingspuntgemiddeld vir die laaste vyf jaar behaal het.

Alhoewel die land se vullisterreine oor die algemeen vrot gevaar het in AfriForum se vullisterreinoudit, is die 22% wat wel vanjaar aan die minimum vereistes voldoen het, die hoogste persentasie vir voldoening vir die afgelope vyf jaar.

Die oorlaaistasie in Mosselbaai is skoon en toeganklik

“Munisipaliteite is veronderstel om gemeenskappe teen besoedeling te beskerm, maar die meeste stortingsterreine is wetteloos en gevaarlik. Met slegs 22% van terreine wat hierdie oudit slaag, is dit duidelik dat die meerderheid munisipaliteite nie in staat óf bereid is om hierdie basiese funksie van dienslewering te verrig nie,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

AfriForum sal die ouditbevindings aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing voorlê en eis dat munisipaliteite aanspreeklik gehou word vir hul mislukte  pogings om vullisterreine te bestuur. Die burgerregteorganisasie sal ook voortgaan om gemeenskapsgebaseerde oplossings te bevorder, soos sy vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein en sy landwye herwinningsprojekte.

“Die enigste volhoubare manier om aan gemeenskappe se behoefte vir verantwoordelike vullisbestuur te voldoen, is om nouer samewerking tussen munisipaliteite en gemeenskappe te bewerkstellig. As gevolg van munisipaliteite se voortgesette gebrek aan behoorlike dienslewering, word individue met geen ander keuse gelaat as om alternatiewe op die been te bring om gemeenskapselfstandigheid te bewerkstellig nie,” sluit De Vaal af.

Lees die volledige verslag hier.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Veiligheid