|

AfriForum-traumaeenheid ontvang skenking vir vroulike slagoffers van geweldsmisdaad

AfriForum se traumaeenheid het hierdie week ’n skenking van 13 ondersteuningspakke – bekend as Genadehandsakke – van die Vroue-landbou-unie (VLU) se Loskop Vallei-tak in Groblersdal, Mpumalanga, ontvang. Dié spesiale handsakke is gevul met toiletware en ander produkte wat so gekies is om vroulike slagoffers van geweldsmisdaad in die ure en dae ná ’n traumatiese misdaad te help.  

Die idee vir die skenking kom van dié VLU-tak se sekretaresse, Lorraine Prinsloo, wat self die slagoffer van ’n plaasaanval was. Sy en haar man, Mike, is op 23 Desember 2022 op hul familieplaas buite Groblersdal met ’n panga aangeval. Lorraine is herhaaldelik oor die kop geslaan en het snywonde op haar kop en arms opgedoen.

“Die handsakprojek dien as ’n blyk van opregte empatie aan vroue wat deur erge trauma gegaan het. Ons het daarom besluit om met die AfriForum-traumaeenheid hande te vat om met die verspreiding van die handsakke te help,” vertel Prinsloo.

AfriForum se traumaeenheid het hierdie week ’n skenking van 13 ondersteuningspakke – bekend as Genadehandsakke – van die Vroue-landbou-unie (VLU) se Loskop Vallei-tak in Groblersdal, Mpumalanga, ontvang.

VLU-lede wat aan die inisiatief deelgeneem het, het self handsakke bekom wat hulle met produkte gevul het wat slagoffers in die ure ná ’n traumatiese misdaad mag nodig kry, insluitende onder meer ’n notaboekie, pen, handeroom, waslap, seep, tandeborsel, tandepasta, sneesdoekies en reukweerder.

Die Genadehandsakke is gevul met onder meer ’n notaboekie, pen, seep en handeroom.

“Die eerste handsakke is reeds op pad na vroue wat onlangs slagoffers van geweldsmisdaad was en ek weet die gebaar sal baie vir hulle beteken. Dit is só ’n groot voorreg om slagoffers soos dié by te staan en op dié manier te help. Hulle voel aanvanklik baie alleen en verward en kan nie glo wat met hulle gebeur het nie. Ons help hulle om tree vir tree vorentoe te beweeg ten spyte van wat ook al met hulle gebeur het,” sê Magda Coetzee, trauma-ondersteuner by die AfriForum-traumaeenheid.

Magda Coetzee, trauma-ondersteuner by die AfriForum-traumaeenheid

AfriForum se traumaeenheid werk oor die land heen om veral slagoffers van plaasaanvalle te ondersteun. Lede van die eenheid help met ontlonting, berading, emosionele ondersteuning, bemagtiging en die aankoop van allerlei items wat slagoffers benodig.

“Die publiek kan ons help deur by AfriForum aan te sluit of om die traumaeenheid se slagofferondersteuningsfonds te ondersteun. Hierdie fondse word weer teruggeploeg in slagoffers se lewens soos en wanneer daardie behoefte ontstaan,” verduidelik Coetzee.

Volgens Prinsloo dra die VLU-lede deur die Genadehandsak-projek ’n belangrike boodskap oor: “Hiermee sê die VLU-vroue: Benadeelde vrou van Suid-Afrika, jy is nie alleen nie. Wees sterk. Ons dink aan jou. As gelowige vroue weet ons mos waar ons krag vandaan kom. God is getrou en regverdig. Sy genade is elke dag weer oorvloedig en nuut.”

Klik hier om die AfriForum-traumaeenheid se slagofferondersteuningsfonds te ondersteun.

Soortgelyke plasings