|

AfriForum pak Graaff-Reinet-naamsverandering

AfriForum het gister (17 Februarie) amptelik beswaar gemaak teen die naamsverandering van Graaff-Reinet na Robert Sobukwe-dorp. Dié burgerregteorganisasie het ’n brief aan Gayton McKenzie, minister van Sport, Kuns en Kultuur, gerig ná hy op 6 Februarie 2026 in die Staatskoerant ’n aantal naamsveranderings van dorpe en stede aangekondig het.

’n Totaal van 21 geografiese naamsveranderings is aangekondig wat bepaal dat Oos-Londen voortaan as KuGompo City sal bekendstaan, Aberdeen as Xamdeboo en Adendorp as Bishop Limba.

Die Wet op die Raad vir Suid-Afrikaanse Geografiese Name 118 van 1998 maak voorsiening vir die indien van besware binne 30 dae ná die publikasie van ’n naamsverandering.

AfriForum se beswaar berus onder meer daarop dat die Oos-Kaapse provinsiale beleid wat pleknaambenoeming reguleer, beklemtoon dat die naamsverandering van plekke van besondere historiese betekenis net in uitsonderlike gevalle oorweeg moet word.

Graaff-Reinet is in 1786 gestig en na die Kaapse goewerneur Jacob van der Graaff en sy vrou Cornelia Reynet vernoem. Dit is die vierde oudste dorp in Suid-Afrika en het sedert sy ontstaan nog nooit as enigiets anders as Graaff-Reinet bekendgestaan nie.

Wie was Robert Sobukwe?

Sobukwe was die stigter van die Pan Africanist Congress of Azania (PAC). Hy is op 5 Desember 1924 in Graaff-Reinet gebore. Sy ma was ’n Xhosa, en sy pa was afkomstig van Lesotho. Sobukwe het aanvanklik nie in politiek belanggestel nie, maar as student aan die Universiteit van Ford Hare is sy belangstelling geprikkel en het hy by die African National Congress (ANC) se Jeugliga aangesluit. Teen 1959 het hy egter frustreerd geraak met die ANC se pogings om apartheid tot ’n val te bring en het toe die PAC gestig.

Baie mense kla oor die naamsverandering

Die Demokratiese Alliansie (DA) en die VF Plus het reeds hul teenkanting teen die verandering van Graaff-Reinet se naam te kenne gegee. Die DA het in minder as tien dae ná die naamsverandering gepubliseer is, reeds meer as 20 000 klagtes van die publiek hieroor ontvang. Dié party sê hulle baklei reeds sedert 2023 teen die voorgestelde naamsverandering en meen McKenzie het die publiek mislei aangesien hy in 2024 gesê het dat die dorp se naam sal nie verander word nie.

Benewens dié duidelike teenkanting het ’n studie van prof. Ronnie Donaldson, van die Universiteit Stellenbosch (US), bevind dat 83,6% van die dorp se inwoners teen dié naamsverandering gekant is.

’n Dorp van vele gedenkwaardighede

’n Panoramiese uitsig oor Graaff-Reinet

Wanneer ’n mens aan Graaff-Reinet dink, kom beelde van die Grootkerk (Nederduitse Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet) waarskynlik by ’n mens op. Dié kerk word as een van die mooiste kerke in die land bestempel, maar dié dorp het ook meer nasionale gedenkwaardighede (220) as enige ander plek in die land. Voorts het verskeie Voortrekkers uit die distrik van Graaff-Reinet gekom. Die Voortrekkerleiers Sarel Cilliers, Gerrit Maritz en Andries Pretorius het almal in die omgewing van Graaff-Reinet geboer voor hulle aan die Groot Trek deelgeneem het.

“Hoewel beweer word dat die naamsverandering tot meer maatskaplike samehorigheid gaan lei, is dit besig om die teendeel te vermag, met groeiende plaaslike en nasionale verdeeldheid hieroor. Inwoners voel selfs dat die minister en ander betrokke owerhede doof vir hul stemme is,” sê Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum.

“Die naamsverandering kan onberekenbare skade aan die kultuurhistoriese inhoud van die naam, die toerismebedryf, die plaaslike ekonomie en verhoudings tussen gemeenskappe aanrig. Die verantwoordelike keuse sal wees dat die minister eenvoudig die verandering terugtrek,” meen sy.

AfriForum doen ’n beroep op almal wat Graaff-Reinet se naam wil beskerm om hierdie ondeurdagte verandering teen te staan en die petisie daarteen hier te onderteken. Die publiek het tot 6 Maart om teen die naamsverandering van Graaff-Reinet en die ander dorpe wat op dieselfde dag in die Staatskoerant gepubliseer is, beswaar aan te teken.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik