|

AfriForum gee wenke vir wanneer grondgrypers toeslaan

AfriForum het vandag ’n gids hervrygestel met praktiese wenke vir wanneer grondgrypers eiendom beset. Dié gids is propvol waardevolle inligting wat grondeienaars sal help om die regte stappe te volg om die grondgrypers binne die raamwerk van die wet te laat verwyder, maar ook hoe om voorkomend op te tree om die risiko van grondgrype te beperk.

“Onwettige grondbesettings skend die fundamentele regte van eiendomseienaars. Hierdie gids verskaf aan gemeenskappe die nodige gereedskap om hul grond te beskerm en beslissend op onwettige aktiwiteite te reageer,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Dit is dus belangrik dat die eienaar van grond ten alle tye weet wat daarop aan die gang is. Goeie buurmanskap is uiters belangrik om te help om verdagtes vroegtydig te identifiseer. Bure kan mekaar ook volmag oor eiendom gee waar die een vir lang periodes van tyd nie daar gaan wees nie. Bure moet ook weet wie op mekaar se eiendom woon.

“Sluit by die plaaslike plaaswag aan of gebruik die dienste van ’n sekuriteitsmaatskappy om te help om jou eiendom veilig te hou. Dit moet so moeilik as moontlik wees vir potensiële betredings om plaas te vind,” sê Broodryk.

Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid

Wetgewing bepaal dat dit ’n misdaad is om eiendom sonder toestemming te betree. Iemand wat hulself hieraan skuldig maak kan ’n boete en/of tronkstraf opgelê word. ’n Hof kan ook las dat só ’n persoon van die grond uitgesit word nadat hy of sy skuldig bevind is aan die misdryf van betreding.

In die geval waar betreding plaasvind moet ’n saak onmiddellik by die naaste polisiekantoor ingedien word waarna die SAPD so spoedig moontlik na die eiendom moet gaan en die betrokke persone arresteer. Waar regmatige of onregmatige okkupasie plaasvind moet ’n aansoek by die hof ingedien word waarna ’n proses gevolg word om uitsetting moontlik te maak. In só ’n geval sal die SAPD net kan optree as ’n bevel van die hof hulle noop om dit te doen.

Die SAPD word volgens die grondwet verplig om op te tree in die geval waar grondgrype plaasvind. Waar hulle dit nie doen nie is daar ’n aantal stappe wat by die polisiekantoor geneem moet word wat daarop neerkom dat die saak met die lyn van bevel op geëskaleer word en uiteindelik tot by die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (OPOD) om die SAPD se versuim te ondersoek. Dit is van kardinale belang dat alle oproepe, gesprekke en vergaderings behoorlik aangeteken word en dat alle bewyse en korrespondensie die eskaleringsbriewe moet vergesel. Dit skep ’n papierspoor wat die ondersoek rakende die SAPD se versuim sal vergemaklik.

“Dit is belangrik dat elke lid van die publiek sy of haar regte op eiendomsbeskerming ken en verstaan,” sluit Broodryk af.

Laai die gids hier af.

Soortgelyke plasings