AfriForum en Saai gaan “Kill the Boer” nou internasionaal beveg
AfriForum en die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) het vandag hul planne vir die internasionalisering van die stryd teen die “Kill the Boer”-dreunsang bekendgemaak. ’n Gedetailleerde klagstaat teen Julius Malema, leier van die EFF, genaamd die Malema-dossier, is ook vandag vrygestel en sal gebruik word as deel van die organisasies se amptelike versoek aan die internasionale gemeenskap om geteikende sanksies teen Malema in te stel. Die dossier sluit onder meer ’n verslag, opgestel deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid, in wat fokus op die bewerings van korrupsie teen dié politieke leier.
Die dossier bevat talle voorbeelde van Malema se voortdurende menseregtevergrype, deur onder meer die sing van “Kill the Boer”-dreunsang, sowel as inligting rakende bewerings van ernstige korrupsie.
Hierdie dossier sal binnekort tydens ’n besoek aan die VSA aan gesaghebbendes versprei word. Voorts sal AfriForum uittreksels daarvan in November tydens ’n sitting van die Verenigde Nasies (VN) bekendmaak.
“Ons vat nou die stryd teen ‘Kill the Boer’ oorsee. Dié dreunsang is niks anders as ’n oproep tot gewelddadige optrede teen ’n sekere groep mense nie. Die sing van die dreunsang laat mense onwelkom voel in die land van hul geboorte. Plaaslik het ons die howe gevra om ‘Kill the Boer’ tot haatspraak te verklaar, maar die hof het die sing van die dreunsang wettig verklaar. President Cyril Ramaphosa het ons versoek om standpunt teen die sing van ‘Kill the Boer’ in te neem, geïgnoreer en dit dwing ons om internasionaal te vra dat daar stappe teen Malema gedoen word,” verduidelik Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Dr. Theo de Jager, uitvoerende direkteur van Saai, beaam Kriel se standpunt en benadruk dat die tyd nou ryp is om die stryd teen “Kill the Boer” internasionaal verder te voer. “Saai probeer al vir meer as 13 jaar om die sing van ‘Kill the Boer’ tot ’n misdaad teen die mensdom te laat verklaar. Dit is belangrik aangesien daar soveel plaasmoorde is. In Suid-Afrika het die Konstitusionele Hof die laaste deur in ons gesig toegeslaan en dit noodsaak ons nou om internasionaal vir stappe teen Malema te vra,” sê hy.

Die Malema-dossier bevat tien voorbeelde van Malema se gewelddadige retoriek wat die sing van “Kill the Boer” insluit, 11 voorbeelde van sy uitsprake teen Westerse lande en organisasies en ’n afdeling oor sy beweerde betrokkenheid by korrupsie. ’n Brief is ook by die dokument ingesluit wat internasionale rolspelers vra om Malema aanspreeklik te hou vir sy optrede en uitlatings, en onder meer die moontlikheid van geteikende sanksies teen Malema of die toepassing van diplomatieke druk op die Suid-Afrikaanse regering om teen Malema op te tree, te oorweeg.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, sal dié burgerregteorganisasie aanhou veg tot geregtigheid geskied. “Sommige mense verskoon of vier selfs Malema se optrede, maar wat hy sê is verkeerd en is ’n oproep tot sy ondersteuners om tot geweld oor te gaan. Malema het in die hof gesê hy sal hom nie daartoe verbind om nooit vir die slagting van wit mense te vra nie. Hy het ook al wit mense as kriminele uitgekryt en meen dat hulle sodanig hanteer moet word. Dit is die uitsprake van ’n siek en haatgedrewe persoon. AfriForum sal aanhou veg tot geregtigheid geskied en Malema vir sy haatspraak verantwoording doen.”

’n Afvaardiging van die Solidariteit Beweging vertrek later vandeesmaand na die VSA om daar steun vir dié veldtog teen die “Kill the Boer”-dreunsang en Malema te werf. Werner Human, direksielid van AfriForum, sal deel van die afvaardiging vorm. Die Malema-dossier sal tydens dié besoek uitgedeel en bespreek word. Lees die volledige dossier hier.