Afrikaans 100 – Taalhelde 5 – Die skeppers van Afrikaner-ikone
In hierdie reeks is die kollig al gewerp op reuse in die geskiedenis van Afrikaans, en ons sal in die toekoms na nog reuse verwys, maar waar het die meeste mense se liefde vir Afrikaanse boeke en stories begin?
Hierdie tyd van die jaar is daar niks lekkerder as om snoesig onder die komberse op te krul met ’n storie nie, en gaan ’n nuwe geslag Afrikaanse kinders waarskynlik bekendgestel word aan die helde van Maasdorp, Keurboslaan en die nimlike Saartjie en Trompie. Om dié rede is die taalhelde van vandeesmaand Stella Blakemore en Topsy Smith.
Stella Blakemore se geskiedenis klink self na ’n roman. Sy is op 13 April 1906 in ’n tent naby Lindley gebore. Haar ma, Emma, was ’n musiekonderwyseres, die dogter van Theunis Johannes Krogh, ondersekretaris in die Transvaalse Republikeinse administrasie. Haar pa was ’n offisier in die Britse leër, kaptein Percy Blakemore. Toe haar ma tydens die Anglo-Boereoorlog met Percy trou, het die familie hulle rug op die egpaar gedraai en het hulle harde bene gekou.
Toe Stella se geboorte naderkom, het haar pa die dokter gaan haal, maar op pad eers ’n potjie kaart gespeel.
Die dokter het gevolglik opgedaag lank ná Stella die eerste lewenslig aanskou het. Enkele jare later het Percy sy vrou en dogter verlaat en na Engeland teruggekeer, waar hy ’n beroepskaartspeler geword het. Stella se ma het ook ’n kleurryke lewe gely en was onder meer een van die eerste Suid-Afrikaanse rolprentaktrises en later eienaar van ’n musiekskool.
Stella was van jongs af op kosskool, wat aan haar die insig gebied het om so oortuigend oor die koshuislewe te kan skryf. Anders as haar karakters, het sy skynbaar nie van dié ervaring gehou nie. Na skool het sy in haar ma se spore gevolg en musiek in Engeland en Duitsland bestudeer. Sy was heel talentvol as operasangeres en het ook as musiekonderwyseres in Johannesburg en Pretoria gewerk. In 1933 is sy met ’n siviele ingenieur, David Owen getroud en as gevolg van sy werk het hulle deur die wêreld gereis. Sy het onder meer in die Ivoorkus, Italië, Swaziland, Nigerië, Duitsland en Ierland gewoon.
Sy het reeds in haar twintigerjare begin skryf, maar haar werke het eers vanaf 1931 in boekvorm verskyn. Die Maasdorp-reeks is vanaf 1933 gepubliseer en die Keurboslaan-boeke wat sy onder haar oupa se naam as skuilnaam geskryf het, vanaf 1940. Dit was nie haar enigste skeppings nie – daar was onder meer ook die Blourant-reeks (wat ook in ’n meisieskool afspeel) en die Rissie-reeks wat sy onder die skuilnaam Dien Grimbeek gepubliseer het.
Kosskoolstories het al so vroeg as 1749 hulle verskyning in Engeland gemaak en in ons eie tyd bewys die sukses van die Harry Potter-reeks dat die avonture van die uiteenlopende kinders en volwassenes wat hulle in die klein wêreld van ’n kosskool bevind, steeds lesers van alle ouderdomme se verbeelding aangryp.
Met haar eiesoortige karakters het Stella, volgens ’n resensie van Tilana du Plooy, “daarin geslaag om die Afrikaanse kind van die relatief afgesonderde Suid-Afrika van die middeldekades van die twintigste eeu nie net te vermaak nie, maar ook op te voed en in te lig. Sy het die hele wêreld gebring na iets so eenvoudig soos ’n Afrikaanse meisieskool”.
Stella het nooit opgehou om in Afrikaans te skryf nie en was woedend toe ’n koerantartikel in 1974 na haar as ’n “Ierse vrou wat Afrikaans skryf” verwys het.
Hoewel sy haar laaste jare in Ierland deurgebring het, het sy Suid-Afrika dikwels besoek en haarself as ’n Boeremeisie beskou. Sy is in Mei 1991 in Ierland oorlede.
Sommige kritici meen dat Stella se boeke die hedendaagse jeug verveel, maar dat die reekse oor Saartjie en Trompie se avonture meer tydloos is. Dit hang seker van die leser af, maar dat Saartjie en Trompie so eie aan ons kultuur soos melktert en biltong is, is gewis.
Hulle is die pennevrugte van Mathys Gerhardus Smith, beter bekend as Topsy Smith, wat op 12 Julie 1914 in Parys in die Vrystaat gebore is. Hy het in ’n Engelse huis in Pretoria grootgeword, maar toe sy ouers sterf, het hy op vyftienjarige leeftyd na die Vrystaat teruggekeer. Op Koppies waar hy toe beland het, was alles Afrikaans. Na matriek het hy ’n BA-graad met Engels en Afrikaans-Nederlands as hoofvakke aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Hy was baie sportief en het in Maties se eerste rugbyspan gespeel, was kaptein van die universiteit se boksspan en lid van die atletiekspan. Hy het daarna ’n diploma in liggaamsopvoeding verwerf en is as organiseerder van liggaamsopvoeding vir skole in Springs en Brakpan aangestel. Later het hy onder meer ook as vryskut-sportjoernalis vir Die Vaderland en Die Sondagpers gewerk, maar hom veral op onderwys toegespits en in 1943 ’n Hoër Onderwysdiploma aan die Universiteit van Pretoria behaal. In 1978 het hy na jare in die onderwys as hoof van Sandringham Laerskool afgetree.
Benewens berigte en boeke oor sport, het hy reeds vanaf 1937 fiksie begin skryf. Van sy vele kinderboeke en -reekse was dié oor Trompie en Saartjie die gewildste. Hy het verskeie skuilname gebruik (dink maar aan Bettie Naudé, die naam waaronder die Saartjie-reeks verskyn het) en ook kortverhale en boeke vir volwassenes geskryf. Uiteindelik het meer as 200 boeke uit sy pen verskyn.
Hy is op 5 Maart 1985 oorlede en het sy vrou, Josie Stuart-Bertram, ’n seun en dogter nagelaat.
In ’n stadium het “hooggeleerdes” aangevoer dat sy boeke resepmatig is en “dus nie bydra tot kinders se positiewe ontwikkeling nie”. Dieselfde besware kan seker ook teen Stella se jeugverhale aangevoer word. Die “kenners” se verdoemende uitsprake het tot gevolg gehad dat van sy boeke selfs uit biblioteke verwyder is. Gelukkig het gesonde verstand geseëvier en het meer onlangse navorsing beklemtoon dat die resepmatigheid juis gerusstellend vir kinders is en hulle help om meer aktief by die wêreld om hulle betrokke te raak.
Wat die leser se opinie ook al mag wees, moet erken word dat hierdie twee mense verantwoordelik was vir geslagte Afrikaanse kinders se bekendstelling aan die wêreld van boeke en stories, en by baie ’n lewenslange liefde vir lees en veral lees in Afrikaans ontwikkel het. Hulle is ware taalhelde wie se nalatenskap ons steeds kan geniet en eer.