’n Lewende monument vir Afrikanerkultuur in Swede
Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum
Die tradisie om ’n boom te plant om ’n besondere gebeurtenis of persoon te herdenk, bestaan al eeue lank en is in kulture oor die wêreld heen gevestig. Bome word beskou as simbole van groei, krag en uithouvermoë. Wanneer ’n boom ter herdenking van iets geplant word, gee dit nie net erkenning aan historiese gebeure van die verlede nie, maar skep dit ook ’n blywende skakel met die nageslag in die toekoms.
In die dorpie Nääs in Swede staan ’n berkeboom wat seremonieel geplant is om ’n besondere band tussen Afrikaners en Swede te herdenk. Dit is naamlik op 5 Junie 1953 deur dr. Samuel Henri Pellissier geplant tydens sy besoek saam met 100 volkspelers en hul leiers aan Nääs. Hy het hierdie lewende monument geplant ter herinnering aan sy besoek aan die dorpie in Junie 1912 toe die plaaslike Sweedse volksliedjies en -danse hom geïnspireer het om die Volkspelebeweging in Suid-Afrika te begin.

Die meeste gemeenskappe in die wêreld het tradisionele danse, musiek en sang. So het die Afrikaners met ons uiteenlopende herkomste ook in die 19de eeu sogenaamde piekniekspeletjies met sang, musiek en danse gespeel, maar dit was nie formeel georganiseer, opgeteken of aangebied nie.
In 1912 het drie onderwysers, naamlik Pellissier, John Murray Meiring (later hoof van Grey Kollege in Bloemfontein) en Francois Jacobus le Roux (later hoof van Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria) Europa met beurse van die Vrystaatse Onderwysdepartement besoek om hulle onderwysvaardighede op te skerp. Ná tydperke in Nederland en Duitsland, is Pellissier en Meiring na Swede waar ’n kursus in hout- en skrynwerk aangebied is. Hulle wou dit graag plaaslik as skoolvak vestig. Die kursus is by Nääs-kasteel gehou. Hierdie indrukwekkende gebou se gedokumenteerde geskiedenis dateer terug tot 1529. In 1868 is dit aan August Abrahamson verkoop, wat gelei het tot die stigting van die August Abrahamson Stigting wat tot vandag toe nog van daar af tradisionele handwerk bevorder.

Mense van oor die wêreld het soos dié twee jongmanne uit Suid-Afrika daar kom handwerk leer en saans trots geklee in hulle volksdrag, volksdanse gedoen en volksmusiek gemaak. Pellissier het besef dat dit iets is wat by Afrikaners ontbreek.
Terug in Suid-Afrika het hy hom daarvoor beywer vir die vestiging van ’n volkspelebeweging. Teen 1914 was hy die adjunk-hoof van die Afrikaanse skool in Boshof en het hy daad by die woord gevoeg. Hy het vier Sweedse liedjies aangepas met die nodige ritmiese dansbewegings en dit op 28 Februarie 1914 tydens ’n Sondagskoolpiekniek bekendgestel. Dit was dadelik gewild onder die jongmense van die omgewing en die belangstelling het gegroei. Plaaslike liedjies en speletjies is deur hom bygewerk. Toe hy boonop in 1926 direkteur van Onderwys in die Vrystaat word, kon hy sorg dat volkspele nasionaal bekend en geliefd raak.
Later het hy vereis dat die volkspele ook met gepaste volksdrag beoefen moes word – die uitrustings is gebaseer op Voortrekkerdrag wat ons vandag ken.
Die Simboliese Ossewatrek van 1938, inwyding van die Voortrekkermonument in 1949 en die Van Riebeeckfees van 1952 het die belangstelling in volkspele aangemoedig – veral weens die indrukwekkende massavertonings wat deur Cecile de Ridder geskep is met etlike duisende volkspelers wat deel van dié geleenthede se programme was. Vir haar rol het “Tannie Cecile” in 1965 ’n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. Sy het ook verskeie boeke oor volkspele geskryf.
In 1953 het die eerste volkspeletoer na Europa plaasgevind. Daar was optredes in Engeland, Nederland, België, Duitsland, Denemarke en Swede – die eerste van verskeie buitelandse besoeke deur volkspelers deur die jare.
Vir Pellissier was die hoogtepunt waarskynlik om terug op sy spore te loop na Nääs-kasteel. Die groep is hartlik daar ontvang en Sweedse volksdansers het ’n jong berkeboompie aan Pellissier geskenk met die versoek dat hy dit plant ter herdenking aan die volksdansbeweging wat daar ontstaan het. ’n Bronsplaatjie met die volgende bewoording in Afrikaans en Sweeds is daarby te sien:

Hierdie boom is deur dr. S.H. Pellissier geplant op 5 Junie 1953 tydens die besoek aan Nääs van 100 Suid-Afrikaanse volkspelers en hulle 10 leiers as ’n gedenkteken om in gedagtenis te hou die feit dat hy in Junie 1912 hier op Nääs deur Sweedse volksdanse en volksang besiel is om in Suid-Afrika met liefde en toewyding die Afrikaner se eie volkspele en volksang te gaan bevorder.
In later jare het Sweedse anti-apartheidstandpunte verhoudinge tussen Afrikaners en Swede geknou, maar steeds groei die boom by die kasteel as herinnering aan die inspirasie wat ’n jong onderwyser hier ervaar het en wat die oorsprong van die hedendaagse Afrikaanse Volksang- en Volkspele Beweging (AVVB) was.
Meer inligting oor die AVVB is by beskikbaar by www.volkspele.co.za, terwyl Nääs-kasteel se webtuiste by www.naas.se/en/ inligting oor die geskiedenis daarvan, huidige kursusse en selfs billike verblyfopsies voorsien. As jy ooit die voorreg het om in die rustige omgewing te wees, onthou om die Volkspeleboom te gaan groet!



