Solidariteit oorwinning skud regering se NGV-planne met oorwinning in hof

Solidariteit het vandeesweek ’n reuseoorwinning in die Konstitusionele Hof behaal om ’n stokkie voor die moontlike implimentering van die Wet op Nasionale Gesonsheidsversekering (NGV) te steek.

Een van die regering se steunpilare om uiteindelik die NGV deur te stoomroller was tot aan die begin van die week die Nasionale Gesondheidswet wat voorsiening maak vir die sogenaamde behoeftesertifikaat, maar met Solidariteit se oorwinnings is die gedeelte van dié wet wat hierna verwys onder meer as ongrondwetlik verklaar. Dié behoeftesertifikaat was een van die belangrikste meganismes waarmee die regering groter beheer oor die gesondheidsbedryf wou uitoefen. Dit sou die staat toenemend die mag gegee het om te bepaal watter gesondheidspraktisyn waar mag praktiseer en watter dienste gelewer mag word.

Solidariteit het die uitspraak as “ ’n oorwinning vir gesondheidspraktisyns se vryheid en beroepsonafhanklikheid” bestempel. Voorts sê hulle ook dis ’n wen vir elke Suid-Afrikaner se reg op beter gesondheidsorg.

Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, sê hierdie uitspraak laat een van die sentrale pilare kantel waarop die regering se verwronge en vernietigende gesondheidsplanne steun.

“Een van die NGV se sentrale pilare het tot ’n val gekom. Die behoeftesertifikaat was veel meer as bloot ’n administratiewe instrument. Dit was ’n instrument van sentralisering en staatsbeheer. Geen regering kan dokters, tandartse, verpleegkundiges en ander gesondheidspraktisyns deur regulasies forseer om gehaltegesondheidsorg te skep waar die regering self misluk het nie,” sê Van der Bijl.

AfriForum het in Februarie sy regstrategie aangekondig om die NGV in die hof te betwis. Een aspek hiervan is dat president Cyril Ramaphosa en dr. Aaron Motsoaledi, minister van Gesondheid, in die beskuldigdebank sal moet sit om te verduidelik waarom dié omstrede wet onderteken is.

Volgens Louis Boshoff, AfriForum se woordvoerder oor gesondheid, is Solidariteit se oorwinning in die hof ’n goeie teken vir die bewaring van gehaltegesondheidsorg.

“Die land se hoogste hof het in beginsel die kant gekies van gesondheidspraktisyns wat vryheid wil hê in besluite oor hoe hulle hul beroep beoefen en téén die regering wat die finansiering en bestuur van gesondheidsorg wil sentraliseer. Die NGV is ook ‘n manier waarop die regering die finansiering en bestuur van gesondheidsorg wil sentraliseer en ons het nou nog meer rede om te glo dat die hof ‘n stokkie daarvoor sal steek,” sê hy.

“Die regering probeer nou die bloedneus in die hof as ’n kleinigheid afmaak, maar hulle het self voorheen gesê dat die behoeftesertifikaat een van die steunpilare van die NGV sou wees. Hul plan was duidelik en die uitspraak is ’n groot terugslag vir hulle. Ons sal verdere verwikkelinge goed dophou,” sluit Boshoff af.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik