Die groot voorgee van die G20
Dalena Beyers, AfriForum-raadgewer vir plaaslikeregeringsake
Die “goeie nuus”-golf wat verlede week in die hoofstroommedia (lees: staatsbefondsde media) oor die land gespoel het, het hierdie week weer teruggetrek. Die droëland-realiteit van korrupsie en wanbestuur is nou weer duidelik sigbaar, net mooi nadat die laaste G20-delegasie vertrek het.
In die afgelope week is die soetsappige storie van ’n suksesvolle Suid-Afrika aan die hele wêreld voorgehou, en kon die president grootmeneer speel deur wêreldleiers op belastingbetalers se munt te onthaal. Oor die hele land heen is die rooi tapyte uitgerol en die bakke kaviaar staangemaak, terwyl die realiteit van skole sonder geld en infrastruktuur, oorvol gevangenisse, e.Coli in wateraanlegte en onwettige vliegtuie vol vlugtelinge goedsmoeds geïgnoreer en toegesmeer is.
Selfs Johannesburg se metro het gemaak asof hulle weet hoe om hul werk te doen, en het begin skoonmaak soos wat jy maak as jou skoonma kom kuier. Net jammer die verval is al so ver gevorderd dat selfs die harde werk van drie dae se slaggate regmaak (na bewering) nie ’n groot genoeg pleister kon plak nie. Die Goudstad het sy spreekwoordelike gat gesien, en ongelukkig kon alle besoekers dit ook sien.
En wee die persoon wat dit gewaag het om die realiteit uit te wys tydens die massa-hipnose: dit gaan eintlik so goed met jou, jy verstaan net nie waarvan jy praat nie. Die ekonomie is tog nou besig om op te tel. En nee, ons het mos nie vir Amerika nodig nie … Vir die eerste keer kon elke wakker Suid-Afrikaner verstaan hoe die keiser deur ’n hele stad kon loop en almal sy klere bewonder.
Die realiteit is dat Suid-Afrika byna vier keer meer werkloosheid het as die naaste ander land wat die beraad bygewoon het: SA sit op 31,9 % en die naaste daaraan, Turkye, het net 8,9%, met die volgende lande (Frankryk en Argentinië) op 7,6%. Net so ter inligting, volgens dieselfde bron het die VSA en Duitsland beide net 4,3% werkloosheid. Geen wonder Suid-Afrika se “oplossings” word so ligtelik opgeneem nie. Alle minerale en grondstowwe uit Suid-Afrika is egter steeds welkom in die ontwikkelde wêreld. Ten spyte van alles is hierdie kommoditeite uitgesluit in die 30%-tariewe wat die VSA teen Suid-Afrika ingestel het, die verval van AGOA (oftewel die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika) ten spyt.
Nog ’n realiteit is munisipaliteite wat bankrot is. Mangaung is so diep vasgevang in die verval en korrupsie dat dit die risiko loop om nie weer geld van die Tesourie te ontvang nie. Dit is nou die belastingbetalers se geld wat jaarliks deur die Tesourie verdeel word aan elke munisipaliteit in die land om basiese dienste aan inwoners te verskaf wat dit nie kan bekostig om die munisipaliteit daarvoor te betaal nie. Elke jaar word daar weer besluit hoeveel elke munisipaliteit kry, want eers as die hele begroting reg bestee is mag die munisipaliteit vra vir meer geld. Mangaung het dit reggekry om nie eers dit wat hulle persent gekry het, uit te gee nie (selfs met al die korrupsie was daar onderbesteding), en dit is nou wanbestuur op sy beste.
Wanneer die Rosestad weer eendag gaan wakker skrik, gaan selfs Naval Hill verkoop wees en toegebou wees met ’n pretpark. (Teken asseblief ons petisie om die Mangaung-metro te stop om natuurbewaring en erfenisterreine te verkoop.)
Die babelas van die G20 gaan nog voor Kersfees omgesit word in ’n yslike dronkverdriet van realiteite wat nie verander het nie: mooi praatjies en luide handeklap van al die diplomate en leiers maak nie paaie reg nie en herstel nie die verkeersligte wat stukkend is nie. AfriForum doen dit daagliks, sonder om te wag vir ’n wêreldverhoog om erkenning te ontvang. Ons sál self.



