AfriForum-vullisterreinoudit: Nul uit vier vir Nelson Mandelabaai-metro
Nie een van die vier vullisterreine in die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) wat vanjaar as deel van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit geoudit is, kon eens aan meer as 50% van die mees basiese vereistes van vullisterreinbestuur voldoen nie. In die res van die provinsie lyk sake ook beroerd en hoewel drie uit die agt terreine wat in die provinsie geoudit is, wel ’n nakomingspunt van 80% of meer behaal het en dus die oudit geslaag het, waarsku die burgerregteorganisasie dat die provinsie se vullisterreine tekens van ernstige sistemiese verval toon.
Die enigste drie terreine in die Oos-Kaap wat vanjaar se oudit kon slaag, is die Roundhill-terrein in Oos-Londen in die Buffalo City-metro wat uitstekend gevaar het en ’n 100%-nakomingspunt behaal het; die Nxuba-terrein (Cradock) in die Inxuba Yethemba Plaaslike Munisipaliteit wat 86% behaal het en die Kouga Plaaslike Munisipaliteit se Humansdorp-terrein wat 80% aangeteken het.
AfriForum het vanjaar 169 van die land se 544 vullisterreine, oftewel nagenoeg ’n derde van die land se terreine, geoudit. Uit die 169 terreine kon slegs een uit elke vyf terreine die oudit slaag.
“Met slegs een uit elke vyf vullisterreine wat voldoende basiese maatreëls het om die gemeenskap en omgewing teen besoedeling te beskerm, bevestig die uitslae van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit weereens dat die meerderheid munisipaliteite landwyd nie in staat óf bereid is om basiese funksies van dienslewering te verrig nie,” verduidelik Marais de Vaal, samesteller van die vullisterreinouditverslag en raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum.
Die Oos-Kaap – waar slegs 38% (oftewel drie uit agt) van die terreine wat geoudit is aan 80% of meer van die ouditvereistes voldoen het – het vanjaar ietwat verbeter op sy jare lange powere prestasie nadat daar in 2023 en 2024 elke keer net twee terreine was wat die oudit kon slaag, terwyl nie een terrein in 2021 of 2022 die pyp kon rook nie. Die provinsie het boonop, naas Gauteng en die Wes-Kaap, die beste in die land gevaar en ’n nakomingspunt van 61% behaal (Gauteng het ’n nakomingspunt van 84% en die Wes-Kaap ’n punt van 66% behaal).
De Vaal waarsku egter dat “hoewel die Oos-Kaap, wat die derde plek op die ranglys beklee, goeie verbetering getoon het en heelwat beter presteer het as die gesamentlike swakste presteerders, verdien die uitslag steeds nie veel lof nie en bevestig die oudit weereens dat talle vullisterreine in dié provinsie ernstige risiko’s inhou en waarskynlik skuldig is aan lug-, water- en grondbesoedeling”.
Uit die agt vullisterreine wat in die Oos-Kaap geoudit is, het die volgende drie terreine die swakste gevaar (die nakomingspunt is in hakkies aangedui):
- Rosedale-oorlaaistasie in Kariega (Uitenhage), NMBM (40)
- Hankey, Kouga Plaaslike Munisipaliteit (42)
- Hillwacht-oorlaaistasie in Kariega (Uitenhage), NMBM (44)
Louis van der Vyver, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Oos-Kaap, hou vol dat die bevindinge van vanjaar se verslag ’n ernstige waarskuwing inhou vir dié provinsie. “Plaaslike munisipaliteite en metro’s in die Oos-Kaap doen duidelik nie genoeg om vullisterreine ordentlik te bestuur nie. Die verval wat andersins in die provinsie duidelik is, spoel ook oor na vullisterreine, maar in dié geval van vullisterreine gaan die verval uiteindelik lei tot enorme besoedeling van onder meer waterbronne wat reuserisiko’s inhou vir die ekologie,” waarsku hy.
AfriForum sal nou die ouditbevindings aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing voorlê en eis dat munisipaliteite aanspreeklik gehou word vir hul mislukte pogings om vullisterreine te bestuur. Die burgerregteorganisasie sal ook voortgaan om gemeenskapsgebaseerde oplossings te bevorder, soos sy vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein en landswye herwinningsprojekte. “Dit is slegs deur hierdie pogings wat gemeenskappe voorspoedig sal wees ongeag die toestande waarin munisipaliteite hulself bevind,” sluit De Vaal af.