|

Die regering se vuil wasgoed: ’n Gesondheidsorgstelsel op die rand van die afgrond

Deur Zel-Marí Gelderblom

Daar is ’n sekere beeld wat ’n mens nie maklik vergeet nie: vrot hospitaalbeddegoed wat  ophoop, ongewaste klere wat eens deur pasiënte gedra is en tuimeldroërs wat in ’n provinsiale wassery stilstaan. Wat soos ’n geïsoleerde logistieke krisis klink, is eintlik veel meer – dit is die simptoom van ’n gesondheidsorgstelsel wat klaarblyklik op die rand van ineenstorting is.

Die afgelope tyd is daar wyd en syd onthullings gemaak oor vuil wasgoed en stukkende of vermiste toerusting by hospitale in Gauteng en Noordwes. Die Witrand Psigiatriese Hospitaal in Potchefstroom is een van die jongste voorbeeld. Tydens ’n oorsigbesoek het die DA verstommende goed oopgevlek: slegs twee werkende wasmasjiene; kookwaterkanne bedoel vir kosmaak wat al vir jare stukkend is; personeel wat self geisers moet aankoop net om warm water vir pasiënte te verseker. Dit is nie bloot administratiewe foute nie, maar ’n menseregtekrisis.

In Gauteng is provinsiale wasserye oorlaai en ondoeltreffend. Oral waar ’n mens kyk is daar tekens van sistemiese wanbestuur. Pasiënte wag ure lank vir behandeling, hospitale moet sonder skoon linne of selfs water klaarkom en personeel is uitgeput, onderbetaal en moedeloos.

Wat veral kommerwekkend is, is hoe lank hierdie probleme reeds bestaan. Dit is nie nuwe probleme nie, maar eerder probleme wat nie verder weggesteek kan word nie. Wanneer vroue in kraam op gangvloere moet lê, pasiënte hulpeloos uitbloei en bejaardes in koue, nat lakens moet slaap, is daar geen ruimte vir verskonings nie. Elke geval is ’n mens se verhaal en elke geval skree ten hemele.

Die onlangse gebeure by Noord-Kaapse psigiatriese hospitale is ook niks minder as ’n menseregteskandaal nie. Die gesondheidsorgombud se verslag oor die sterftes van pasiënte by die Noord-Kaapse Psigiatriese Hospitaal in Kimberley en die Robert Mangaliso Sobukwe Hospitaal ontbloot ’n sistemiese verval in gesondheidsorg. Gebrekkige infrastruktuur, kragonderbrekings wat lank duur, onvoldoende mediese sorg en personeel wat hul pligte versuim is alles tekens van dié verval. Wanneer pasiënte met geestesongesteldhede aan hul eie lot oorgelaat word en ander letterlik verkluim van die koue, gaan dit nie net oor bestuur nie, maar oor ’n morele verantwoordelikheid om die kwesbaarstes te beskerm – iets wat die regering ernstig versuim het om te doen.

Dis ’n stap in die regte rigting om ’n taakspan aan te stel om die ombudsman se aanbevelings toe te pas. Sonder deursigtige dissiplinêre optrede en politieke aanspreeklikheid bly dit egter slegs lippediens op ’n tragiese laagtepunt in openbare gesondheid. Pleks daarvan om direk aandag aan hierdie probleme te skenk, stoomroller die regering steeds sy planne vir nasionale gesondheidsversekering deur: ’n projek wat finansiering gaan sentraliseer, maar wat nie die kern van die krisis die hoof bied nie. Die vraag is eenvoudig: As die regering nie eens basiese funksies soos wasgoed en waterinfrastruktuur doeltreffend kan bestuur nie, waarom sou burgers vertroue hê in die regering se vermoë om ’n veel groter en komplekser stelsel te bestuur?

Wat kort, is nie nóg beleide en sentralisasie nie. Wat kort, is aanspreeklikheid, politieke wil en die herstel van professionele kultuur binne openbare gesondheid. Elke opgehoopte laken, elke pasiënt wat sonder basiese sorg gelaat word, is ’n aanklag teen ’n regering wat nie meer aan die basiese verantwoordelikhede van dienslewering voldoen nie. Hierdie krisisse bied nie net redes vir kommer nie; dit vereis optrede. Dit vereis ingryping wat verder as parlementêre vrae of mediaverklarings gaan. Suid-Afrikaners verdien ’n gesondheidsorgstelsel wat hul menswaardigheid eer. Tot dan bly die stelsel in intensiewe sorg en die pasiënt is die publiek.

Zel-Marí Gelderblom is die koördineerder van inhoud en mediaverhoudinge by AfriForum en het ’n meestersgraad (cum laude) in genderpolitiek aan die Nelson Mandela Universiteit behaal. Sy is ook die aanbieder van AfriForum in fokus.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik