VIDEO: Dit is hoog tyd, prioritisering van plaasmoorde nou noodsaaklik – AfriForum
Deur Marthinus Koekemoer
“Plaasaanvalle word dikwels afgemaak as ‘net nog ’n misdaad’, maar dit is nie. Om só te sê, is nie net onakkuraat nie, maar ook gevaarlik en oneerlik. Plaasaanvalle wat soos enige ander misdaad hanteer word, lei tot lewensverliese.” Só waarsku Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, in ’n nuwe video oor plaasaanvalle wat vandag bekendgestel is.
In dié kort video stel Broodryk ondersoek in na die kenmerke van plaasaanvalle en stel dit duidelik waarom die bekamping en hantering van dié aanvalle ’n unieke benadering vereis en derhalwe as prioriteitsmisdaad verklaar moet word. Broodryk voer voorts ook aan dat formele samewerking tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en gemeenskapsorganisasies en buurtwagte ’n noodsaaklike komponent is in die plan vir die beveiliging van landelike gemeenskappe.
Kenmerke van plaasaanvalle
Luidens AfriForum se navorsing kenmerk oordadige geweld met marteling, verminking en selfs moorde in teregstellingstyl, plaasaanvalle in talle gevalle. Daar is boonop bevind dat daar soms min of niks tydens aanvalle gesteel word nie – ’n aanduiding dat finansiële of materiële gewin nie noodwendig in alle gevalle die rede vir plaasaanvalle is nie.
“Plaasaanvalle en -moorde is nie iets wat op die ingewing van die oomblik gebeur nie. Dit word vooraf beplan en teikens se roetines word soms weke lank gemoniteer voordat daar toegeslaan word en selfs die roetes waarmee die aanvallers gaan ontsnap, word goed beplan,” verduidelik Broodryk.
Oor waarom plase en kleinhoewes geteiken word, is Broodryk ook duidelik. Die geïsoleerdheid van plase en kleinhoewes maak van plase en kleinhoewes kwesbare en derhalwe sagte teikens vir aanvalle.
Prioriteitsmisdade: “Nie net ’n gewone misdaad nie”
Volgens Broodryk bestaan die nodige regsmeganismes vir die prioritisering van plaasaanvalle reeds en is dit hoog tyd dat dié stap gedoen word. “Geslaggebaseerde geweld en renosterstropery is reeds met reg prioriteitsmisdade, terwyl die bekamping van en ondersoeke na politieke moorde ook ’n spesiale benadering volg. Daarenteen word die moord en marteling van boere en hul werkers net as ’n ‘gewone misdaad’ geag. ’n Mens moet wonder hoeveel erger plaasaanvalle en -moorde moet raak voordat dit as ernstig genoeg beskou sal word om as prioriteitsmisdaad te kwalifiseer,” sê Broodryk.
Transitorooftogte en plaasaanvalle het verskeie kenmerke in gemeen. Albei word vooraf in detail beplan, onwettige vuurwapens word gebruik, wapens word gesteel en dikwels oor provinsiale grense uitgevoer. Transitorooftogte is ’n prioriteitsmisdaad omdat dit die stabiliteit van die ekonomie bedreig. Plaasaanvalle bedreig voedselsekerheid.
Broodryk benadruk dat politici se gebruik van slagspreuke en liedjies wat die aanvalle op kwesbare lede van die samelewing aanhits, ook kommer wek, terwyl geweldsmisdaad in Suid-Afrika genormaliseer word en plaasaanvalle derhalwe verkeerdelik ook as ’n normale verskynsel afgemaak word.
“Deur nie plaasaanvalle en -moorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar nie, sê die Direktoraat vir Prioriteitsmisdade (Valke) inderwaarheid dat die geweld wat daarmee gepaardgaan, nie ernstig genoeg is nie en dat die slagoffers nie belangrik genoeg is nie,” verduidelik Broodryk. Dié standpunt takel die publiek se vertroue in die regering en polisie om hulle te beskerm, selfs verder af.
“Dit gee ook aan misdadigers verdere motivering om met hul dade voort te gaan aangesien hulle dink dat hulle daarmee gaan wegkom. AfriForum eis daarom dat plaasaanvalle en – moorde nóú tot prioriteitsmisdaad verklaar word,” sluit Broodryk af.
Kyk die video hier.



