|

Vervolging van Mbalula wink ondanks poging om AfriForum die mond te snoer

Deur Megan Swart

Ondanks Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, se verbete pogings om AfriForum by monde van sy regsverteenwoordigers te laat muilband, gaan die burgerregteorganisasie volstoom voort om toe te sien dat Mbalula vervolg word vir bewerings van bedrog, geldwassery en korrupsie deur óf die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) óf AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Dít volgens advokaat Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid. Nel het vandag saam met Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van openbare betrekkinge, ’n omvattende verslag getiteld die Mbalula-dossier bekendgemaak. AfriForum is op die vooraand van die mediakonferensie deur Mbalula se regspan gedreig om nie met die mediakonferensie voort te gaan nie. Die dossier handel onder meer oor die bewerings van bedrog, geldwassery en korrupsie teen Mbalula.

Nel sê die privaatvervolgingseenheid het hom reeds tot die pasaangestelde nasionale direkteur van Openbare Vervolgings, adv. Andy Mothibi, gewend om te versoek dat Mbalula vervolg word vir die beweerde korrupsie wat sy Dubaise gesinsvakansie in 2016 moontlik gemaak het. Ondanks die openbare beskermer (OB) se opdrag dat die finansiering van die vakansie ondersoek moet word, het die NVG in Augustus 2023 aangekondig dat hy niemand in dié verband gaan vervolg nie. Die privaatvervolgingseenheid voer aan dat dié besluit irrasioneel was en heroorweeg moet word.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het opnuut besluit om die vervolging van Mbalula aan te vra nadat generaal-majoor Richard Shibiri, die geskorste nasionale hoof van die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad, vandeesweek by die Madlanga-kommissie toegegee het dat hy ’n R70 000-lening by die omstrede tenderpreneur Vusimuzi (Cat) Matlala ontvang het. Oudregter Mbuyiseli Madlanga, kommissievoorsitter, het egter Shibiri ondervra oor sy voorneme om eers die sogenaamde lening terug te betaal nadat dit in die openbaar aan die lig gekom het.

“Dié voorval is ’n spieëlbeeld van Mbalula se optrede toe die bewerings van bedrog, geldwassery en korrupsie aan die lig gekom het. Mbalula was in 2016 met vakansie en aan die einde van 2017 is dié omstrede vakansie en wie daarvoor betaal het, in die media bekendgemaak. Op dieselfde dag wat dit in die media bekendgemaak is, het Mbalula die sogenaamde lening terugbetaal – etlike maande later,” sê Nel.

“Oudregter Madlanga het dit in Shibiri se geval duidelik gemaak dat die R70 000 nie ’n lening was nie, maar verskans was as een. Waarom moet daar in Mbalula se geval ’n ander gevolgtrekking gemaak word?” vra Nel.

Volgens Nel was die NVG tot dusver huiwering om Mbalula weens sy politieke posisie te vervolg, ten spyte daarvan dat daar ’n sterk prima facie-saak bestaan dat korrupsie, bedrog en geldwassery gepleeg is in die betaling van die Dubaise vakansie.

“Niemand mag teen vervolging verskans wees bloot omdat hulle ’n senior posisie beklee nie. Daarom sal AfriForum voortgaan om privaat vervolging teen Mbalula te oorweeg sou die NVG besluit om hom nie te vervolg nie,” sê Nel.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid is van voorneme om aansoek te doen om Mbalula privaat te vervolg sou die NVG wéér versuim om dit te doen. Vir dit om te gebeur, sal verskeie wetlike prosesse eers ontwikkel moet word om privaat vervolging op aanklagte van korrupsie moontlik te maak.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het intussen reeds vordering gemaak om Mbalula privaat te vervolg op ’n aanklag van crimen injuria. Dié aanklagte hou verband met die openbare stellings wat hy gemaak het waarin Jaco Pieterse, eertydse skoolhoof van ’n skool in Matatiele, as ’n kinderverkragter uitgemaak is. Dié dossier is reeds verkry.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik